Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lenings nie genoeg om kleinsake te red - banke

Suid-Afrikaanse banke verwag oënskynlik dat hulle wéér deur Tito Mboweni, minister van finansies, gekritiseer gaan word vir die vermeende mislukking van die leningswaarborgskema.

Geld wat stom is, kan nié vir klein ondernemings regmaak wat krom is in die ekonomie nie. Foto: Unsplash

In ’n verklaring wat Sondag uitgereik is, verwys die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) na Mboweni se begrotingsrede Woensdag: “Kort voor die nasionale begrotingsrede moet dit dalk herhaal word dat die Covid-19-leningswaarborgskema op sy eie nie al die finansiële en sake-uitdagings wat klein ondernemings moet trotseer, kan oplos nie.

“Baie daarvan kom van voor die pandemie af en is veroorsaak deur ’n gebrek aan inklusiewe groei en onseker sake-omstandighede.

“Ons doen ’n beroep op die minister om ander ondersteuningsprogramme te oorweeg om te verseker dat klein en mediumgrootte ondernemings die huidige ekonomiese krisis kan oorleef, soos om rompslomp te verminder en die gemak van sake doen te verbeter.”

Die leningswaarborgskema, waarvoor die Reserwebank R100 miljard opsy gesit het, was bedoel om ondernemings te help wat deur die Covid-19-inperkings geknou is. Dis verlede jaar as deel van pres. Cyril Ramaphosa se hulppakket van R500 miljard, insluitend uitgestelde belasting en hertoewysing van staatsgeld, bekend gestel.

Banke het die afgelope twee weke R60 miljoen aan kleiner ondernemings geleen as deel van die skema. Dit bring die totale bedrag wat teen einde Januarie uitgeleen is, op R17,9 miljard te staan, steeds minder as 18% van die R100 miljard wat die regering gehoop het ondernemings by banke sou leen.

Basa sê net 261 nuwe aansoeke is die afgelope twee weke ontvang, waarvan 97, oftewel net meer as ’n derde (37%) goedgekeur is.

Basa verwag dat die aantal aansoeke vir lenings sal aanhou daal.

Die redes waarom so min lenings toegestaan word, bly onveranderd sedert Basa op 3 Februarie volledig verslag gedoen het oor die leningskema.

Dit sluit in:

  • Sake-eienaars is onwillig om nog skuld aan te gaan. Basa blameer die swak ekonomie, trae pas van hervorming, beurtkrag en swak sake- en verbruikersvertroue vir ondernemings se onwilligheid om meer geld te leen.
  • Baie ondernemings het reeds alternatiewe steun van hul banke benut, insluitend betaalvakansies op skuldpaaiemente.
  • Baie ondernemings voldoen nie aan die kriteria wat vir die skema gestel is nie, naamlik dat hulle die geld net vir Covid-19-verwante bedryfskoste mag gebruik, en kredietwaardig moes gewees het voordat die Covid-19-krisis begin het.

Die regering het banke al keer op keer gekap dat hulle nie meer geld uitleen nie, en Basa se verklaring is ’n manier waarop banke sê hulle wíl help, maar kan net soveel doen. Onder meer sê Basa die kriteria van die skema kan slegs deur die Reserwebank en tesourie verander word.

Daarby is banke bang vir nóg swak skuld. Hoewel die Reserwebank die grootste deel van die lenings waarborg as ondernemings dit nie kan terugbetaal nie, moet banke self ook nagenoeg 6% van die swak skuld dra.

Absa het juis die afgelope week die eerste bank geword wat aandui dat sy wins in 2020 skerp gedaal het, met tot 55%. Banke reik almal oor die volgende paar weke hul resultate uit.

Meer oor:  Basa  |  Bankbedryf  |  Hulppakket  |  Kleinsake  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.