Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lenings vir taxi’s styg met 14% tot R10 mjd.

Die finansieringsmaatskappy SA Taxi, wat lenings verskaf vir die aanskaffing van minibustaxi’s, se totale uitstaande lenings het in die ses maande tot einde Maart met 14% of R1,2 miljard tot R10 miljard gestyg.

Die genoteerde kredietverskaffer Transaction Capital wat 75% van SA Taxi besit, het in sy resultate vir die halfjaar tot einde Maart gesê daar is 31 543 voertuie met die geld gefinansier. 

SA Taxi
Die minibussies waarvoor SA Taxi motorlenings verskaf. Foto: Verskaf

Die styging in die uitstaande lenings hou verband met 9% meer lenings wat in die tydperk toegestaan is. Die bykomende styging van vyf persentasiepunte in die totale lenings spruit uit die toename in die pryse van taxi’s.

Transaction Capital het in Februarie ’n kwart van SA Taxi aan taxibase verkoop. Lees ook: Taxibase koop kwart van SA Taxi

SA Taxi se inkomste uit rente het met 13% tot R553 miljoen gestyg.

SA Taxi maak ook geld uit versekering, motorhandelaars wat nuwe en gebruikte taxi’s verkoop en ander byprodukte. Dié produkte dra nou 37% van sy inkomste by.

Versekering is die belangrikste aandrywer van inkomste wat nie met rente op lenings verband hou nie. Die inkomste uit versekering het vinniger gestyg as die motorlenings. In die eerste helfte van sy boekjaar het sy versekeringspremies met 22% tot R401 miljoen gespring.

Skuldinvordering

Transaction Capital het ook ’n onderneming Transaction Capital Risk Services (TCRS) wat skuldboeke koop van skuld wat nie-invorderbaar of afgeskryf is. Hy probeer dan die skuld invorder.

Einde Maart het dié skuldboeke R1,7 miljard beloop – ’n styging van 68% teenoor einde Maart verlede jaar.

Die onderneming fokus meestal daarop om skuldboeke te kry van kleinhandelaars wat reeds die nie-invorderbare skuld afgeskryf het.

In die eerste helfte het TCRS 13 skuldboeke gekoop met ’n gesigwaarde van R2,1 miljard. Dié skuldboeke is teen R404 miljoen in Suid-Afrika en R33 miljoen in Australië gekoop.

Einde Maart het TCRS 254 skuldboeke met ’n gesigwaarde van R23,5 miljard besit wat teen R1,7 miljard gewaardeer is.

“In Suid-Afrika is die ekonomiese klimaat gunstig om nie-presterende skuldboeke te koop van kliënte wat risiko wil vermy en ’n onmiddellike invordering op die skuldboeke wil hê,” sê David Hurwitz, uitvoerende hoof, in ’n verklaring oor die resultate.

Volgens Hurwitz gaan die verkryging van skuldboeke versnel word om toekomstige inkomstegroei te ondersteun.

Transaction Capital se toeskryfbare kernwesensverdienste het met 17% tot R363 miljoen gestyg. Die kernwesensverdienste toeskryfbaar van SA Taxi het met 22% tot R211 miljoen gestyg en die skuldinvorderaar Transaction Capital Risk Services s’n met 13% tot R134 miljoen.

’n Tussentydse dividend van 27c per aandeel is verklaar, 29% hoër as in die ooreenstemmende tydperk.

Meer oor:  Transaction Capital  |  Sa Taxi  |  Lenings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.