Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Let wel: Dié winkels sal nog mag aflewer
Kos word as noodsaaklik beskou en mag dus gedurende die staat van inperking afgelewer word. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners sal steeds tydens die nasionale staat van inperking kruideniersware aanlyn kan bestel, het Woolworths, Pick n Pay en Checkers aan Netwerk24 bevestig.

Al drie dié supermarkgroepe het in die laaste paar dae ’n drastiese toename in aanlyn bestellings gesien wat tot ’n agterstand in aflewerings gelei het.

“Die vraag na goedere is ongekend,” sê ’n woordvoerder van Woolworths. “Aangesien kos as ’n noodsaaklikheid beskou word, sal Woolworths aanhou kos aflewer.”

Volgens die woordvoerder is werknemers dag en nag besig om bestellings te verpak en af te lewer. Die maatskappy span bykomende voertuie in om kos vinniger afgelewer te kry, maar tog kan dit ’n paar dae neem vir die kospakkies om te arriveer.

“Ons is dankbaar vir ons kliënte se geduld en ondersteuning in dié tyd, sowel as vir ons personeel, wat die groot aantal bestellings fenomenaal hanteer.”

Pick n Pay en Checkers het ook ’n skerp toename in die aantal aanlyn bestellings gesien in die laaste paar dae, en verwag dat die vraag na goedere in die komende dae net gaan toeneem.

Pick n Pay, Checkers en Woolworths deel kliënte in op ’n afleweringskedule wat soms dae vooruit vol bespreek is.

Al drie dié winkels het perke ingestel op hoeveel artikels ’n klant op ’n slag kan bestel.

By Checkers is dit ’n maksimum van 30 artikels, met sommige produkte wat tot drie per persoon beperk word.

By Woolworths word inkopiegangers tot ’n maksimum van vyf van sekere produkte beperk om te verseker die winkelgroep kan aan die vraag voldoen. Dit sluit in noodsaaklike artikels soos handreiniger en toiletpapier.

Dieselfde beperkings geld vir aankope by Pick n Pay.

“Help ons asseblief deur net te bestel wat jy benodig,” vra Pick n Pay.

Kontaklose aflewering

Om afleweraars, sowel as kopers, te beskerm het al drie winkelgroepe bykomende maatreëls ingestel vir die aflewering van goedere.

Die afleweraar sal jou voordeurklokkie lui of aan jou deur klop en daarna ’n veilige afstand handhaaf.

Sodra jy die deur oopmaak, sal die bestuurder jou identiteit bevestig en jou kruideniersware op die grond voor jou deur neerplaas.

Kopers sal geen papierwerk hoef te onderteken of enige fisieke kontak met die afleweraar hoef te maak nie.

Wie lewer nie meer af nie?

Kosafleweraars wat kos van restaurante en kitskosrestaurante aflewer, mag nie gedurende die staat van inperking sake doen nie. Die restaurante is almal gesluit.

Dit sluit in dienste soos Uber Eats, Mr D Food en OrderIn.

Yuppiechef het ook sy gereelde kliënte per e-pos laat weet hy gaan geen aflewerings tydens die staat van inperking doen nie. Sy fisieke winkels sluit ook in dié tyd.

Takealot het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy is nog onseker of sy diens as noodsaaklik al dan nie beskou word.

Net dienste wat deur die regering as noodsaaklik beskou word, mag tydens die staat van inperking in bedryf wees.

Sou die regering vind net dienste wat kos aflewer, is noodsaaklik, sal dit beteken Takealot en ander soortgelyke aanlyn winkels sal noodgedwonge ook moet sluit.

’n Aankondiging oor watter dienste noodsaaklik is al dan nie, word binnekort verwag.

Meer oor:  Pick N Pay  |  Checkers  |  Woolworths  |  Covid-19  |  Kosaflewering  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.