Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lewenseise: Net 2% van Covid-sterftes was ingeënt

Minder as twee uit 100 eise vir lewensversekering ná ’n Covid-19-sterfte die afgelope twee maande was vir die dood van mense wat ten volle ingeënt was, sê Momentum.

astrazeneca, inenting
Baie minder mense wat die entstof teen Covid-19 ontvang het, sterf. Foto: Reuters/Gleb Garanich

Die finansiëledienstegroep sê dit beteken meer as 98% van die eise vir Covid-19-sterftes was vir mense wat nog nie ingeënt was nie of wat nog net een Pfizer-inenting gekry het.

“Ons weet daar gaan ’n lig aan die einde van die tonnel wees as meer mense ingeënt word,” sê Stephen van Niekerk, hoof van Momentum Life Insurance.

Die maatskappy sê nóg ’n bewys dat inentings werk, is dat baie minder lewenseise nou vir gesondheidswerkers ontvang word. In die eerste vlaag (middel 2020) was 8% van die Covid-19-sterftes gesondheidswerkers; in die derde vlaag (wat nog nie amptelik verby is nie) het dit tot 2% gedaal.

Inenting werk. Punt.
Stephen van Niekerk, hoof van Momentum Life Insurance

Gesondheidswerkers is heel eerste vanaf Februarie ingeënt. Baie van hulle was deel van die Sisonke-studie oor die veiligheid en doeltreffendheid van die Johnson & Johnson-entstof, waarmee 496 242 gesondheidswerkers ingeënt is.

Momentum moedig mense aan om ingeënt te word, selfs al is daar enkele ingeënte pasiënte wat sterf.

“Omdat die entstowwe nie 100% doeltreffend is nie, is dit moontlik dat meer lewenseise ná die dood van ingeënte mense sal kom, maar ons moet beklemtoon dat ons ervaring toon dat die risiko vir ernstige siekte, hospitalisering, versorging in waakeenhede en sterftes baie minder is by mense wat ten volle ingeënt is,” sê Van Niekerk.

Volgens Momentum se berekeninge is die kans 50 keer groter dat iemand wat nié ingeënt is nie, aan Covid-19 sal sterf as iemand wat ten volle ingeënt is.

“Inenting werk. Punt.”

Die syfers stem baie ooreen met dié van Discovery, wat bevind het 99% van die lede van die Discovery Health- Mediese Skema wat nou op ventilators is, is mense wat nie ingeënt is nie.

LEES OOK: Discovery se syfers: ‘Ventilators vir dié wat nie inspuit’

Sonder ’n inenting sterf 1 813 uit elke miljoen mense aan Covid-19. Met ’n inenting val dit tot 150 uit elke miljoen mense. Dit is minder as die 208 sterftes per miljoen mense wat aan gewone griep sterf, volgens Discovery.

LEES OOK: Discovery verplig inenting vir werknemers

Momentum se syfers toon ook dat eise vir inkomstebeskerming – wat mense opeis wat nie ’n inkomste kan verdien nie terwyl hulle siek is – aansienlik gedaal het onder gesondheidswerkers nadat meer van hulle ingeënt is. Verlede jaar was 60% van Covid-19-verwante eise hiervoor vir gesondheidswerkers; nou is dit sowat 30%.

Momentum sê nog ’n bewys dat inentings werk, is dat die virus in die derde vlaag meer jonger mense (jonger as 60 jaar) platgetrek het. Dit weerspieël die feit dat mense van 60 jaar en ouer eerste in die ry vir inentings was.

Momentum het sy standpunt herhaal dat hy nie sy werknemers van die Momentum Metropolitan-groep gaan verplig om ingeënt te word nie, maar glo hulle sal “verantwoordelik wees en die regte keuses maak”.

“Ons personeel sien en beleef daagliks die vernietigende uitwerking van Covid op die samelewing, gesinne en ons onderneming. Ons maak dit daarom vir ons werknemers so maklik en moeitevry moontlik om op inentingsdae vir personeel ingeënt te word.”

Twee van Momentum Metropolitan se mededingers, Discovery en Sanlam, het in die afgelope weke aangekondig dat hy inenting vir al sy werknemers verpligtend gaan maak.

Momentum Metropolitan sê 73% van sy werknemers wat aan die Momentum Health- Mediese Skema behoort, is reeds ingeënt.

Momentum gaan tussen 30% en 40% van sy personeel in die toekoms op ’n rotasie-grondslag van die huis af laat werk. Dit maak dit moontlik om toegewings te maak aan mense wat beswaar maak teen die inenting, mits hulle nie met kliënte werk nie. Momentum voorsien wel dat inenting vir dié mense verpligtend gaan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.