Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lewis se verkope op kontant styg 46%

Die Lewis-meubelgroep is reg vir verkope rondom Swart Vrydag en die komende feestyd en glo hy gaan nog markaandeel wen nadat kontantverkope in die laaste paar maande met 46% in sy winkels verhoog het.

Lewis
Lewis is reg vir Swart Vrydag met genoeg voorraad.

Die groep se aandeelprys het in ’n stadium Woensdag met 16% gestyg nadat sy resultate vir die halfjaar tot einde September uitgereik is en ’n dividend vir die tussentyd verklaar is.

Die groep, wat ook Beares, Best Home & Electric en United Furniture Outlets besit, is van die min kleinhandelaars wat ’n dividend verklaar het en dit boonop met byna 11% verhoog het.

Dit kom nadat die winkelgroep ’n skerp toename in verkope gehad het sedert sy winkels op 1 Junie heropen het nadat dit twee maande tydens die inperking gesluit was.

Johan Enslin, uitvoerende hoof, sê die totale verkope in die vier maande het tot einde September 20% jaar tot jaar gestyg.

Hy sê dit is ook interessant dat die verkope gedryf is deur kontantverkope wat met 46% gestyg het. Kredietverkope wat die meeste van die verkope behels, het net met 1,5% gestyg.

Volgens hom is sterk reële groei in die verkope gekry, want prysinflasie van die fabrieksvloer af het net 3% beloop.

Hy sê groei het in al hul winkels voorgekom.

Enslin het die skerp styging in verkope toegeskryf aan die opgekropte vraag wat ontstaan het tydens die twee maande van die inperking toe die winkels toe was en spaargeld wat in dié tyd opgebou is. Dit het minstens twee maande lank gehelp om verkope te steun.

“Die stimuluspakkette van die regering asook die geldelike hulp wat die regering aan verbruikers gebied het, het ook gehelp.

“Daarna moet ’n mens nie die waarde van al die stimuluspakkette van die regering onderskat nie. Die spesiale welsynstoelae wat verskaf word, moet ook nie uit die oog verloor word nie.”

Die groei in verkope kom veral van vyf kategorieë naamlik beddens, sitkamerstelle en huishoudelike toestelle soos yskaste, stowe en wasmasjiene.

Enslin sê Oktober se verkope het met meer gestyg as in die afgelope vier maande en November lyk sover ook goed. Dit sal afhang van Swart Vrydag se verkope.

Die winkelgroep het nie soos ander kleinhandelaars deur die maand Swart Vrydag aangebied nie en syne skop Vrydag af.

Hy sê hulle het goed voorberei om nie die aantal toegelate mense te oorskry nie.

“Die risiko is natuurlik laer vir ons as vir iemand wat ’n 2 liter-Coke teen afslag verkoop. Ons aankope is een waaroor mense ’n klein bietjie langer dink, want die gemiddelde verkoopprys is R5 000. Hoewel ons groot volumes verkoop, is daar nooit skares nie. Waar ons op ’n gewone dag vier tot vyf transaksies per winkel sou doen, sal dit dalk nou 20 tot 25 wees wat oor agt handelsure versprei is.”

Hy sê die winkelgroep het genoeg voorraad vir groot promosies op Swart Vrydag en vir goeie winskopies in die feestyd.

“Toe die staat van inperking begin het, het ons besluit om geen bestellings te kanselleer nie. Baie ander kleinhandelaars het hul bestellings gekanselleer. Dit het goed vir ons gewerk, want toe die fabrieke internasionaal en plaaslik oopmaak, was ons voor in die ry.”

Volgens hom het dit ook tot lojaliteit en ’n goeie gesindheid teenoor Lewis gelei.

“Ons ondervind vandag steeds dat ons bestellings voorrang in die fabrieke geniet.”

Die kwessie van beskikbare voorraad is belangrik omdat daar wêreldwyd ’n groot tekort aan staal was en nog steeds ’n tekort aan spons is.

In Suid-Afrika is daar ’n groot tekort aan hout en planke waarvan spaanderbord vir die vervaardiging van sekere meubels gemaak word.

Boonop is daar tans ook ’n wêreldwye tekort aan skeepsvraghouers.

“’n Klomp kleinhandelaars gaan dalk nog in ’n situasie verkeer waarin hulle geen voorraad gaan hê nie.”

Oor die algemeen het die groep se produkverkope – as gevolg van die tyd toe die winkels moes sluit – met 4,9% tot R1,6 miljard in die hele halfjaar gedaal.

Die groep het weens die inperking R360 miljoen se verkope en R250 miljoen se terugbetalings op verbruikerskrediet verloor.

Saam met die inkomste uit kredietverskaffing het die inkomste met 1,6% tot R3 miljard gedaal.

Die maatskappy se bedryfswins het as gevolg van streng bedryfskostebestuur met 14% gestyg. Dit het ingesluit laer vervoer-, huur- en administrasiekoste. Bemarkingsuitgawes het in April en Mei ook drasties gedaal.

Debiteurekoste het 35% gestyg weens ’n voorsiening vir slegte skuld, wat afgeskryf moet word, wat gestyg het.

Die kontant geskep uit bedrywighede het met R273,6 miljoen tot R611,2 miljoen gestyg.

Enslin sê die Lewis-groep se balansstaat is gesond en die groep het steeds geen skuld nie.

Hy sê hulle is trots daarop dat Lewis nie nodig gehad het om sy dividend op te skort nie en aandeelhouers “baie ruim” kan beloon met die dividend wat byna 11% hoër is.

Meer oor:  Lewis  |  Swart Vrydag  |  Inkopies  |  Winkels  |  Winskopies  |  Kontant  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.