Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lewis se wins styg weer, en beleggers hou daarvan

Die meubelhandelaar Lewis se beleggers het ’n sug van verligting geslaak oor sy resultate vir die halfjaar tot einde September en sy aandeelprys het Woensdag met 9% gespring tot R31.

Lewis het die meubelwinkelgroep UFO vir R320 miljoen gekoop.

Lewis het Woensdag bekend gemaak dat sy wins uiteindelik ná vier jaar van dalende wins weer begin styg het.

Volgens Johan Enslin, uitvoerende hoof, is dit danksy die omkeerproses wat drie jaar gelede begin is. Die nabelaste wins het met 5% tot R150,4 miljoen gestyg.

Produkverkope het met byna 26% tot R1,6 miljard gestyg. Dit sluit in die verkope van United Furniture Outlets (UFO), wat in dié tydperk verkry is. UFO se bydrae uitgesluit, het Lewis se verkope met 8% gestyg.

“In die huidige omgewing is dit ’n syfer waarmee ons tevrede is,” het hy in ’n onderhoud aan Netwerk24 gesê. “Dit is aanvaarbare resultate in baie moeilike tye.”

Volgens Enslin is koste streng beheer en het koste in die groep se kernbedrywighede in pas met inflasie gestyg.

Hy wys ook daarop dat die dividend met 5% gestyg het.

“Die belangrike punt is dat ons strategie met diversifikasie ’n positiewe bydrae begin lewer.”

Die Lewis-groep het in 2014 besluit dit is nodig om te diversifiseer om ’n wyer segment klante te bedien.

Die groep het in 2014 net Lewis-winkels en Best Home and Electric gehad, wat grootliks op die laer inkomstegroepe van LSM 4 tot LSM 7 gefokus het.

Boonop het sy produkverkope – soos dié van die meeste meubelhandelaars in daardie stadium in Suid-Afrika – net 46% van sy inkomste beslaan.

Net 17% van sy verkope was in buurlande en net 53% van sy verkope was meubels.

Drie en ’n half jaar later is Lewis se klante nou in die inkomstegroepe LSM 4 tot LSM 10.

Dit is bewerkstellig toe hy Beares in 2015 gekoop het van die Ellerine-groep, wat in sakeredding was. Ellerine, wat op hoërinkomstegroepe gerig was, was deel van die African Bank-groep, wat ondergegaan het.

Die verkryging van UFO diversifiseer hom verder omdat sý teikenmark LSM 9 tot LSM 10 plus is, sê Enslin.

In 2017 het die Lewis-groep sy getal winkels in buurlande verdubbel toe Beares se winkels daar verkry is. Buitelandse winkels dra nou 22% van sy verkope by.

Die afgelope jare is ook meer van sy inkomste uit produkverkope begin verdien in plaas van uit rente vanweë kredietverskaffing en versekeringspremies.

Van sy totale inkomste van R2,9 miljard in die halfjaar beloop produkverkope nou 57%.

Die omkeerstrategie behels ook dat hy ’n groter deel van sy inkomste uit meubels verdien. “Dit is makliker om meubelaankope eksklusief te doen as elektroniese toestelle.” Meubels het boonop beter winsmarges, sê hy.

Ons glo ons het die produkte nou so 80% reg. As dit 100% reg is, kan ons verder uitbrei.
Johan Enslin van Lewis

Meubels beslaan nou 61% van die produkte wat verkoop word.

“As na al dié aspekte gekyk word, verskil Lewis vandag baie van hoe ons vier jaar gelede gelyk het.”

Hy meen baie kan nog gedoen word om Beares te verbeter. “Ons glo ons het die produkte nou so 80% reg. As dit 100% reg is, kan ons verder uitbrei.”

Toe UFO bekom is, het hy 31 winkels gehad. In die res van die halfjaar onder oorsig is nog twee geopen en nadat die halfjaar geëindig is, is nog drie geopen.

Nóg twee nuwe UFO-winkels gaan voor die Kerstyd open. Die plan is om dié winkels ook na buurlande uit te brei.

Die groep het nou altesame 779 winkels. Vordering is ook gemaak om kleiner Lewis-winkels te open. Daarvan het die groep 214.

Enslin sê die handelstoestande is werklik moeilik weens die hoë werkloosheidskoers en petrolprysstygings.

Die groep sien egter lig sedert die hooggeregshof vereistes van die Nasionale Kredietwet tersyde gestel het dat

klante wat om krediet aansoek doen, drie bankstate, drie salarisstrokies of ander bewyse van hul inkomste moet toon.

Die regulasies het in September 2015 in werking getree, waarna drie winkelgroepe in 2016 hof toe is hieroor. Die hof het vroeër vanjaar in hul guns beslis. Lewis was nie deel van die aansoek nie.

Dit het nogtans meegebring dat die Lewis-groep weer op krediet kan verkoop aan mense wat in die informele sektor of vir hulself werk. Dit het kredietverkope in die laaste kwartaal van die halfjaar met amper 10% gelig.

“Ons het binne vier maande meer as 10 000 van dié klante terug op ons kredietboeke gekry,” het Enslin op ’n aanbieding aan beleggers gesê. “Ons glo die geleenthede om weer krediet aan die klante te verskaf sal die negatiewe faktore teenwerk.”

Dit gaan veral in die platteland verkope aanhelp. Die Lewis-groep het sy personeel in plattelandse winkels met meer as 100 verminder omdat sy verkope erg negatief geraak is deur die regulasies.

Meer oor:  Lewis  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.