Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Liberty betaal 61% meer uit in afgelope ses maande

Die lewensversekeraar Liberty se dood- en ongeskiktheidseise het met 61% gestyg in die halfjaar tot einde Junie vergeleke met die ooreenstemmende tydperk in die vorige jaar.

Volgens Liberty was oormaatsterftes in die afgelope halfjaar hoër as wat verwag is.

Dit is toegeskryf aan die effek van die pandemie op sy polishouers.

Liberty het in die ses maande R8,5 miljard aan dood- en ongeskiktheidseise uitbetaal vergeleke met R5,3 miljard in die ooreenstemmende tydperk.

Die groep het Woensdag sy resultate vir die halfjaar uitgereik.

Volgens David Munro, uitvoerende hoof van Liberty, is die reserwe wat gehou word vir bykomende Covid-19-eise en ander koste wat met die pandemie verband hou, met R1 miljard verhoog.

’n Reserwe vir die pandemie van R3,1 miljard is verlede jaar geskep. Die reserwe is bereken op grond van die verwagte verhoging in eise vir sterftes en afleggings asook ’n verhoging in uitgawes weens die pandemie en ’n daling in premiebetalings.

Einde Desember is R2,2 miljard van die reserwe oorgehou.

Aan die einde van die afgelope halfjaar het die beskikbare pandemiereserwe R1,5 miljard beloop.

Bykomende eise vir sterftes en begrafnisse, ’n ongunstige ervaring met die betaling van polisse se premies en spesifieke uitgawes vir die pandemie, het in die halfjaar R1,7 miljard beloop.

Oormaatsterftes in die afgelope halfjaar was hoër as wat verwag is. Dit is toegeskryf aan die erger as verwagte Beta-variant wat laat in 2020 en vroeg vanjaar vir die tweede vlaag van koronavirusinfeksies verantwoordelik was.

“Met die onlangse voorkoms van die aansteekliker Delta-variant, tesame met die langer as verwagte vertragings in die verspreiding van entstof, is die aannames oor infeksiekoerse einde Junie hersien. Die aanname is nou dat ’n groter deel van die bevolking besmet of herbesmet gaan word met variante van die koronavirus voor inentings na verwagting die sterftes tot onbeduidende vlakke gaan verminder.”

Liberty sê met die koms van die aansteekliker Delta-variant is aangeneem 30% van die bevolking moet nog vir die eerste keer Covid-19 opdoen om die teoretiese drempel vir kudde-immuniteit van 80% tot 85% te bereik.

Dit is gegrond op die projeksies van verskeie studies wat daarop dui dat 50% tot 55% van die bevolking teen Junie reeds een keer met die virus besmet was.

“Maar met aanduidings dat natuurlike immuniteit ná ’n paar maande afneem en dat immuniteit nie altyd werk teen nuwe variante nie, word nou aanvaar dat infeksies en herinfeksies sal voortduur totdat inentings die oormaatsterftesyfer tot onbeduidende vlakke verlaag.”

Die aanname is gemaak dat die infeksies en herinfeksies soortgelyk sal wees daaraan dat nog 15% van die bevolking vir die eerste keer die virus opdoen. Liberty het dus aangeneem nog 45% van die bevolking sou nog die virus moet opdoen.

Liberty het ’n nabelaste wins van R551 miljoen in die halfjaar getoon vergeleke met die verlies van R3,4 miljard in die ooreenstemmende halfjaar.

Die direksie het sy versigtige benadering behou en het nie ’n tussentydse dividend verklaar nie om sy kapitaalposisie te ondersteun weens die onsekerheid wat nog bestaan ten opsigte van die verspreiding van die virus en die invloed daarvan op die ekonomie.

Dit is ondanks die sterk kapitaalposisie waarin die maatskappy is nadat die pandemie-reserwe verhoog is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.