Die Liberty-groep het in die boekjaar tot einde Desember ’n groot verlies gely nadat ’n reserwefonds geskep moes word om voorsiening te maak vir die verwagte styging in sterftes en afleggings weens die koronaviruspandemie.

Liberty het 'n massiewe verlies van R1,5 miljard gely weens die Covid-19-pandemie. Foto: Liberty
Die maatskappy sê die bedryfsomgewing was buitengewoon moeilik en dat sy bedryfsresultate op verskeie maniere wesenlik deur die pandemie geraak is.
Dit sluit in die skep van ’n pandemie-reserwe van R3 miljard om die verwagte toename in eise vir die styging in sterftes en afleggings te dek. Dit is onlangs met ’n marginale R73 miljoen verhoog nadat die jongste inligting oor die pandemie in berekening gebring is.
In die boekjaar is R823 miljoen reeds benut en teen einde Desember was daar ’n voorbelaste R2,2 miljard in die reserwe.
Die groep het beduidend minder nuwe sake geskryf omdat regstreekse kontak met verkoopsagente nie te midde van die staat van inperking kon plaasvind nie. Nuwe sake het R7,3 miljard beloop; 10% minder as in die vorige jaar.
Die genormaliseerde bedryfswins voor voorsiening vir die reserwefonds was 71% laer op R628 miljoen.
Ná die voorsiening beloop sy genormaliseerde verlies R1,5 miljard.
Volgens David Munro, uitvoerende hoof, het nuwe sake bemoedigend verbeter in die tweede helfte van die boekjaar en veral in die vierde kwartaal nadat inperkings verslap is.
Bestuursoptrede en digitale hulp wat aan die verkoopspan gegee is, het ook gehelp.
In die boekjaar is R11,7 miljard se lewensversekeringseise vir dood en ongeskiktheid uitbetaal – 11% meer as in die vorige jaar.
Die netto invloei van kontant van kliënte het van R13 miljard in die vorige jaar tot R30,2 miljard toegeneem, grootliks vanweë sterk die invloei wat Stanlib in sy geldmarkfonds van instellings (pensioenfondse) gekry het.
Die groep se bates onder bestuur het met 5% tot R776 miljard gestyg, ook grootliks danksy Stanlib se kontantinvloei.
Die beduidende onsekerheid oor die verspreiding van die virus en die ekonomiese gevolge daarvan het daartoe gelei dat die direksie besluit het om geen dividende vir die boekjaar te verklaar nie ondanks die groep se sterk kapitaalposisie.
Munro en Jacko Maree, voorsitter, sê in die aankondiging oor die resultate die jaar wat voorlê gaan waarskynlik onvoorspelbaar en gevul met onsekerheid en uitdagings wees.
Die volume van nuwe sake en winsmarges gaan waarskynlik onder druk bly gegewe die geldelike probleme van huishoudings en ondernemings.
Die wins gaan gevolglik ook onder druk wees.