Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Life Healthcare ‘beter voorberei’ op 2de vlaag
Adam Pyle, uitvoerende hoof van die hospitaalgroep Life Healthcare SA

Die Life Healthcare-groep is beter voorberei op ’n moontlike tweede vlaag van Covid-19-gevalle omdat talle lesse die afgelope maande geleer is, het Peter Wharton-Hood, nuwe uitvoerende hoof van die groep, gesê.

Wharton-Hood wat September in die pos begin het, het gesê die effek van die eerste vlaag was verwoestend op die hospitaalgroep, en R2,3 miljard se inkomste en R1,8 miljard van die genormaliseerde bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering is in die boekjaar tot einde September in Suider-Afrika verloor.

Hy het gesê hulle het lesse geleer uit die eerste vlaag en die beste praktyke in alle hospitale en oral waar hy bedrywig is in afwagting op ’n tweede vlaag in werking gestel.

Adam Pyle, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse bedrywighede, het gesê danksy die lesse wat geleer is, neem die hospitaalbestuur nou baie vinniger besluite soos wanneer besoekers beperk en teaters gesluit moet word.

Met die styging in gevalle wat nou weer in Port Elizabeth ondervind word, is daar ’n baie korter gaping tussen wanneer operasies gestaak is en wanneer die gevalle begin toeneem het.

“Ek glo nie ons gaan dieselfde lae besettingsvlakke in die hospitale sien as in die eerste vlaag nie omdat die pandemie nou beter begryp word.”

Hospitale was die afgelope maande net halfvol omdat die operasies gestaak is en die aantal Covid-19-gevalle nie daarvoor opgemaak het nie.

Teen September was die besettingsvlak van die hospitale nog op 53% (vergeleke met 68% verlede jaar).

Dit het stelselmatig verbeter tot 60% in November, volgens hom.

Die herstel in Suid-Afrika is ook stadiger as in ander lande.

Die inkomste van hospitale was in Oktober 8,6% laer as die vorige jaar en 3% in November.

“Dit sal tyd neem voor die volumes weer terugkeer na normaal en dit sal van die tweede vlaag afhang.”

In die eerste deel van die pandemie het die aankoop van persoonlike beskermde klere hulle ook groot kopsere besorg. Daaruit is ook lesse geleer.

“Ons is nou meer ervare met waar en wat ons aankoop en het beter toegang tot die produkte.”

Wharton-Hood het gesê die groep se strategie gaan vir die nuwe omgewing aangepas word.

Volgens hom verwag hulle dat die effek van die pandemie op die ekonomie die lede van mediese fondse gaan verminder en dit kan ’n uitwerking op die winsgewendheid van sy hospitale in Suid-Afrika hê.

“Ons bly versigtig optimisties oor die jaar vorentoe.”

20 personeellede dood aan Covid-19

Life Healthcare het 20 personeellede aan Covid-19 verloor. Infeksies onder personeellede tussen April en September:

Verpleegpersoneel: 1 989

Ander personeel: 723

Dokters: 139

Life Esidimeni: 340 pasiënte en 383 personeellede.

Hulle is versigtig omdat die tweede vlaag wesenlike onsekerhede bring. “Ons moet die dissipline wat in die tweede helfte van die afgelope boekjaar gehandhaaf is, voortsit.”

Die optimisme spruit onder meer uit die lesse wat in die afgelope maande van die pandemie geleer is.

Ook Life Healthcare, wat oorsee bedrywig is, ondervind dat die herstel na vorige vlakke van opnames stadiger as in ander lande gebeur.

Die groep se inkomste het in die boekjaar met 1,1% tot R25,3 miljard gedaal.

Die genormaliseerde bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering het die uitwerking getoon van bykomende kostes weens die pandemie en laer opnames en het met 28% tot R4,1 miljard gedaal.

Sy inkomste in Suider-Afrika het met 6,6% gedaal tot R17,2 miljard en die genormaliseerde bedryfswins voor die finansieringskoste en waardevermindering het met 35% tot R2,8 miljard gedaal.

Die hospitaalgroep het ook nie ’n dividend met die interim en voljaar verklaar nie.

Meer oor:  Life Healthcare  |  Adam Pyle  |  Covid-19  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.