Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Life Healthcare onder druk van mediese fondse
Die Life Hilton-hospitaal in KwaZulu-Natal.

Die hospitaalgroep Life Healthcare het ’n baie moeilike halfjaar agter die rug, onder meer weens die ingryping van mediese fondse om pryse en hospitaalopnames onder beheer te kry.

Dr. Shrey Viranna, uitvoerende hoof van die Life Healthcare-groep, sê die halfjaar tot einde Maart was nie net in Suid-Afrika ’n moeilike tyd nie, maar internasionaal vir genoteerde gesondheidsmaatskappye die geval. Volgens hom hou die moeilike handelstoestande verband met die druk op tariewe.

Hospitaalgroepe soos Life Healthcare verdien hul inkomste uit die getal dae wat pasiënte in die hospitaal deurbring, en wat die inkomste per dag daarop beloop. Die inkomste per dag hou verband met prysverhogings wat met mediese fondse onderhandel word.

Die inkomste uit sy hospitale in Suid-Afrika het met 5,6% tot R8,2 miljard in die halfjaar tot einde Maart gestyg. Dit is ’n verlangsaming vergeleke met die ooreenstemmende halfjaar ’n jaar gelede.

Dit is grootliks danksy die in inkomste per dag in die hospitaal wat met 5,9% gestyg het, en die totale dae waarvoor pasiënte in die hospitaal betaal het, wat met 0,3% gedaal het.

Die styging in inkomste per dag word bepaal deur wat die prysverhogings is, en watter soort gevalle behandel word.

Life Healthcare se pryse het in die halfjaar met 5,1% gestyg, vergeleke met die ooreenstemmende halfjaar se 5,9%.

Suid-Afrika dra nog by verre die grootste deel van Life Healthcare se inkomste en wins by.

“Die realiteit wat ons beleef, is druk op opnames en prysverhogings van onder inflasie weens die realiteit van die finansiële druk waaronder mediese fondse is, en wat aan dokters en hospitale deurgegee word,” sê Viranna.

Life se bedryfswins in Suid-Afrika het nog baie stadiger as die groei in inkomste teen net 2,2% tot R1,49 miljard gestyg.

Premies van mediese fondse styg reeds vir jare met baie meer as inflasie en dit word te duur vir verbruikers om te bekostig. Daarom groei mediese fondse se ledetal nie. Mediese fondse gryp in met gesondheidsorgbestuur en voordele wat verander word.

Dr. Shrey Viranna, uitvoerende hoof van die Life Healthcare-groep. Foto: Verskaf

Life se bedryfswins in Suid-Afrika het nog baie stadiger as die groei in inkomste teen net 2,2% tot R1,49 miljard gestyg. Dit is ook stadiger as verlede jaar se styging van 5,6%.

Viranna erken sy bedrywighede was nie doeltreffend genoeg nie.

In die lopende halfjaar word gefokus op groter bedryfsdoeltreffendheid om die winsmarges te laat herstel en te keer dat dit nie verder daal weens die druk op tariewe en koste nie.

Verder word groot beleggings vir die komende jare beplan om uit te brei na ander dienste.

Life Healthcare het al op 24 April gewaarsku sy wins is onder druk, deels weens die minder dae wat pasiënte in hospitale deurgebring het, maar ook oor die koste van nuwe inisiatiewe waarin hy belê om minder afhanklik te wees van sy gewone hospitale.

Life Healthcare se inkomste het in totaal, ingesluit sy buitelandse bedrywighede, met 9,5% tot R12,4 miljard gestyg. Sy bedryfswins het met 3,6% tot R1,8 miljard gedaal.

Nabelaste wins het met 47% tot R498 miljoen geduik.

Volgens Viranna het hospitaalopnames weer van Januarie af begin verbeter.

Meer oor:  Life Healthcare  |  Wins  |  Hospitaalgroep  |  Resultate  |  Mediese Sorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.