Die aantal likwidasies het in die vierde kwartaal van verlede jaar met 20,5% gestyg vergeleke met die ooreenstemmende kwartaal in die vorige jaar.
Altesame 640 ondernemings is in dié kwartaal gelikwideer.

Verskeie bedrywe, onder meer drankhandelaars, mikrobrouerye en restaurante, pleit vir verligting van die vlak 3-inperkingsmaatreëls om te keer dat hulle permanent hul deure moet sluit. Foto: Unsplash
In Desember het likwidasies met 14% gestyg tot 153 gevalle, toon die jongste verslag van Statistieke Suid-Afrika.
Vir die hele jaar het likwidasies van ondernemings met sewe tot 2 035 gedaal.
Dit is grootliks omdat beslote korporasies se likwidasies met bykans 10% tot 871 gedaal het.
Daarteenoor het maatskappye se likwidasies vir die jaar met bykans 8% tot 1 164 gestyg. Dit is die grootste getal maatskappy-likwidasies sedert die 1 259 wat in 2012 gelikwideer is.
Van die ondernemings wat gelikwideer is, was die meeste (635) in die finansiële- en sakedienstebedryf en 397 in die handelsektor.
Kamilla Kaplan, ekonoom van Investec, sê in die vierde kwartaal was die meeste likwidasies ook in die finansiële sektor, gevolg deur die handelsektor.
Vir die voorafgaande 12 maande toon die gemiddelde aantal likwidasies ’n stygende tendens.
“Die kans is goed dat likwidasies verder gaan styg, veral in die sektore wat erg deur die inperkings geraak word, en weens die veranderings in verbruikersgedrag in ontspanning, gasvryheid en reis,” sê Kaplan.
Insolvensies van individue en vennootskappe toon op sy beurt’n dalende tendens.
In die drie maande tot einde November (die laaste maand van die jaar se syfers is nog nie hiervoor beskikbaar nie) het insolvensies met 31% gedaal en vir die jaar tot dan met 42%.