Besonderhede oor die toetse vir die listeriose-bakterie wat in sy Enterprise-fabriek in Polokwane gedoen is, moet binne die volgende maand aan Tiger Brands oorhandig word.

Polonie en koue vleis was lank ná die listeriose-pandemie nie op Suid-Afrikaanse inkopielyste nie. Foto: Pixabay
Ingevolge ’n bevel van die hooggeregshof in Johannesburg moet derde partye dié inligting aan Tiger Brands gee sodat hy sy verweer kan voorberei in die groepsgeding teen hom.
Die derde partye sluit in die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).
Van Desember 2017 tot Maart 2018 is 1 065 gevalle van listeriose geïdentifiseer en 218 mense is dood. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het dit as die grootste listeriose-epidemie nóg in die wêreld beskryf.
Die departement van gesondheid het op 4 Maart 2018 aangekondig die Enterprise-fabriek is as die bron van die epidemie geïdentifiseer.
Onafhanklike toetse wat Tiger laat doen het, het later bevestig die bakterie is op die buitekant van die omhulsel van die polonie gevind. Polonie word ná die kookproses, wat binne die plastiekomhulsel plaasvind, in munisipale water afgekoel.
Tiger het reeds in Mei 2019 lasbriewe uitgereik wat inligting oor die toetse versoek, maar dis geweier, wat Tiger genoodsaak het om hof toe te gaan. Uitspraak is op 15 Mei voorbehou, en dis nou dié uitspraak wat Dinsdag in Tiger se guns gelewer is.
Tiger sê die bevel sal help om die groepsgeding vorentoe te laat beweeg.
Die derde partye mag wel appelleer. Nios het nog nie op navrae gereageer nie.
Tiger het vroeër vanjaar aangekondig hy wil sy vleisafdeling verkoop. Dit sluit benewens Enterprise Bokkie, Renown en Mieliekip in. In Februarie het die maatskappy gesê daar is heelwat belangstelling, maar sedertdien is daar geen nuus bekend gemaak nie.
Tiger Brands vervaardig ook ikoniese handelsname soos All Gold, Black Cat, Colman’s, Crosse & Blackwell, Ice Cap, Koo, Spray and Cook en Mrs H.S. Ball’s.