Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Listeriose-wolk hang nog oor Tiger se kop
Listeriose is steeds 'n kopseer vir Tiger Brands. Foto: Pixabay

Die voedselsiekte listeriose en die gevolglike ineenstorting van die verkope van polonie en ander verwerkte vleis, hang steeds soos ’n donker wolk oor die kosgroep Tiger Brands se syfers.

Tiger Brands se omset was in die halfjaar tot einde Maart 2% laer op R15,4 miljard. As sy vleisprodukte se syfers hieruit weggelaat sou word, sou die omset 4% hoër gewees het.

Tiger Brands se wesensverdienste per aandeel uit voortgesette bedrywighede was dus 12% laer op R7,62.

Tog was sy aandeelprys Woensdagoggend 1,24% hoër op R232,86.

Maar verbruikers wat onder druk is, wat dit moeilik maak om pryse te verhoog, het ook ’n impak op die groep se syfers gehad.

Lawrence MacDougall, uitvoerende hoof, sê inkopiegangers bestee minder en probeer hul rande rek.

Tiger Brands se syfers wys mense skarrel agter spesiale aanbiedings aan, vergelyk pryse en bou voorraad op van enige duur produk wat op promosie is.

Hulle koop meer in grootmaat as die pryse beter is, en soek veral deur koerantadvertensies na spesiale pryse.

Die syfers wys mense het meer bestee aan brood, babaprodukte, toiletpapier, seep, sardientjies en bestanddele om hul eie kos te maak, en minder is bestee aan mieliemeel, kookolie, hoendervleis en verwekte vleis.

Die meeste van Tiger Brands se handelsmerke is steeds leiers in markaandeel in hul kategorieë, soos Albany-brood, Tastic-rys, Black Cat-grondboonbotter, Purity-babakos, All Gold-konfyt en Doom-insekdoder.

Groepseis

Hy gaan die listeriose-groepseis teen hom teenstaan, het Tiger Brands bevestig.

Hoewel die groep versekeringsdekking het vir produk-aanspreeklikheid, het sy versekeraars gewaarsku dit sluit nie dekking vir straffende eise in nie.

En dit beteken verder dat as die groepseis tot by die konstitusionele hof vorder en dié hof besluit om straffende eise toe te staan, sal die versekering nie die straffende eise dek wat nie vergoedend van aard is nie. Tiger Brands sê hy behou sy regte voor in dié verband.

Eenmalige wins

Tiger Brands het in die halfjaar eenmalige bykomende wins van R329 miljoen aangeteken, sê Noel Doyle, finansiële hoof. Dit spruit uit die Kaapse bemagtigingsgroep Brimstone se koop van agt miljoen aandele in die visserygroep Oceana wat Tiger Brands besit het, asook ’n versekeringseis van R100 miljoen wat uitbetaal het en wat verband hou met Tiger Brands se Enterprise-fabriek wat weens listeriose moes sluit.

Dié wins is egter grotendeels weggevreet weens ’n vertraging in die heropening van die Enterprise-fabriek, asook afleggingskoste by van sy ander ondernemings.

Pasta

Nes sy mededinger Pioneer vroeër die week in sy resultate-aankondiging aangedui het, het Tiger Brands se pasta-afdeling onder skerp druk gekom weens goedkoop invoer. Die bedryfswins van sy afdeling wat Jungle-hawermout, pasta en rys verkoop, het met 31% tot R152 miljoen gekrimp.

Vleisfabriek

Die probleem by sy verwerktevleis-afdeling was die uitdagings om die fabriek weer aan die gang te kry en die logistiek rakende die herbekendstelling van produkte. Dit het omset met ’n hele 79% tot R213 miljoen laat val.

Die afdeling se stygende roumateriaalkoste het bygedra tot die bedryfsverlies van R296 miljoen teenoor ’n jaar gelede se wins van R13 miljoen. Tiger Brands verwag egter ’n veel beter syfer in die tweede helfte van die jaar, want diensvlakke en logistiek het volgens hom intussen aansienlik verbeter.

Dividend

Die groep het ’n halfjaardividend van R3,21 per aandeel verklaar, asook ’n spesiale dividend van R3,06 per aandeel wat spruit uit die wins van sy verkoop van die Oceana-belang aan Brimstone. Die halfjaardividend is 15% minder as ’n jaar gelede s’n.

Meer oor:  Tiger Brands  |  Polonie  |  Kos  |  Listeriose  |  Resultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.