Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lonende ruil vir Naspers-hoë
Steve Pacak, nie-uitvoerende direkteur van Naspers en voormalige finanshoof.

Steve Pacak, voormalige finansiële hoof van die internet- en mediareus Naspers, het verlede week ’n enorme transaksie beklink waardeur hy R560,4 miljoen van sy Naspers-aandele op die ope mark verkoop het, en terselfdertyd R41 miljoen daarvan weer bestee het om sy opsie op 300 000 Naspers-aandele uit te oefen.

Vir dié aandele hoef hy net R136,76 per aandeel te betaal het, want dit is aandeelopsies wat op 12 Maart 2008 aan hom toegeken is toe hy nog in Naspers se diens was.

Ingevolge die reëls van die betrokke aandeelopsieskema mag die opsies nie later as tien jaar ná die toekenningsdatum uitgeoefen word nie.

Luidens die JSE se Sens-aankondiging laat Vrydagmiddag het Pacak verlede Woensdag 185 000 Naspers-aandele vir R560,4 miljoen op die ope mark verkoop teen ’n gemiddelde verkoopprys van R3 029 per aandeel.

Hiervan het hy toe R41 miljoen gebruik om 300 000 aandeelopsies vir R136,76 per aandeel te koop. Dié aandele was teen Woensdag se markprys sowat R908 miljoen werd, en Pacak sou dus ’n wins van sowat R867 miljoen gemaak het as hy die aandele weer op die ope mark sou verkoop het.

Sy wins sou egter heelwat meer gewees het as hy vroeër wakker geskrik en sy aandele op 21 November verlede jaar verkoop het toe Naspers op sy hoogste vlak nog van R4 090 per aandeel verhandel het.

Die aandeelprys het sedertdien – maar veral die afgelope twee weke – skerp teruggesak en Vrydag vir die eerste keer in sowat vier maande tot onder die R3 000-vlak gesak.

Naspers verteenwoordig met sy markwaarde van meer as R1 300 miljard byna 20% van die hele JSE, en het dus die afgelope weke die beurs se indeks van alle aandele saam met hom afgetrek van ’n hoogtepunt van 61 595 tot Vrydag se 55 902 – ’n vlak wat laas in Oktober verlede jaar gesien is.

Beleggers in algemene aandelefondse is dus nou terug waar hulle in Oktober was en al die wins wat sedertdien behaal is, is uitgewis. Die JSE is wel oor ’n tydperk van 12 maande steeds positief met ’n opbrengs van 9,3%, blyk dit uit Bloomberg-inligting.

Pacak was danksy sy aantreklike Naspers-aandeleopsies in ’n stadium al onder die 100 rykste mense in Suid-Afrika, en onder die top-10 rykste Suid-Afrikaners in die plaaslike tegnologiebedryf.

Pacak het in 1988 by Naspers begin werk as finanshoof van M-Net. Hy het vanaf 2009 tot met sy aftrede in 2014 as finansiële hoof van Naspers gedien. Hy is in 2015 as nie-uitvoerende direkteur aangestel.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Naspers  |  Aandeelpryse  |  Markte  |  Finansiële Hoof  |  Beurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.