Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Loonskok vir restaurante te midde van Covid-krisis

Die land se grootste restaurante en kitskosplekke gaan hulle “teësinnig tot die howe wend” nadat nuwe, veel hoër lone Maandag aan hulle opgedwing is.

Rosemary Anderson, die bedryfsliggaam Fedhasa se nasionale voorsitter, het Dinsdag gesê hulle win ’n dringende regsmening in nadat gesprekke met die departement van indiensneming en arbeid doodgeloop het.

Duisende restaurante, kitskosplekke en spyseniers is sedert Maandag onderhewig aan ’n nuwe bedingingsraad se loonooreenkoms wat landwyd na byna alle ondernemings in die bedryf uitgebrei is.

Loonverhogings kom terwyl restaurante steeds onder die invloed van die Covid-19-verwante inperkings steier. Foto: Unsplash

Dit sluit in dat lone van ver bo die nasionale minimum loon, asook verskeie heffings betaal moet word.

Jan Truter van die arbeidsregpraktyk www.labourwise.co.za sê die departement van indiensneming en arbeid het die ooreenkoms met die nuwe Bedingingsraad vir die Kitskos-, Restaurant-, Spysenierings- en Verwante Bedrywe van toepassing gemaak op ondernemings in die bedryf landwyd, met die uitsondering van dele van Pretoria en Johannesburg, waar ander bedingingsrade reeds soortgelyke ooreenkomste het.

Dit is ingevolge ’n Staatskoerant wat op 8 Januarie gepubliseer is.

Dit kom terwyl restaurante steeds onder die invloed van die Covid-19-verwante inperkings, waaronder die verbod op drankverkope en ’n sluitingstyd van 20:00, steier.

Fedhasa is veral ongelukkig omdat die nuwe bedingingsraad glad nie die meerderheid werknemers verteenwoordig wat die uitbreiding van die ooreenkoms sou regverdig nie.

“Die gasvryheidsbedryf steun die behoefte aan billike werknemervoordele, maar die ooreenkoms is uitgebrei sonder vasgestel is in watter mate die partye werklik die bedryf verteenwoordig. Konsultasie met die bedryf sal ’n baie beter uitkoms vir sowel ondernemings as werknemers meebring,” sê Anderson.

Sy sê gesprekke met die departement was “vriendskaplik en konstruktief”. “Hulle het bevestig hoewel hulle simpatiek is jeens ons argumente, is ons enigste uitweg om in die hof te toets of die gelyste partye die bedryf verteenwoordig, wat helderheid vir alle partye sal bring.”

Anderson sê hulle gaan hulle dus teësinnig tot die howe wend, maar sal konstruktief met die regering in gesprek bly.

Truter sê die belangrikste bepalings in die ooreenkoms is:

Lone

Verskillende lone word vir verskillende kategorieë werknemers voorgeskryf, wat alles heelwat bo die nasionale minimum loon is. “Selfs die laags betaalde kategorieë, soos kelners en algemene assistente, staan op R22,25 per uur – ongeveer 7% hoër as die nasionale minimum loon.”

Dié lone moet boonop op 1 Mei 2021 met die inflasiekoers plus 1,5 persentasiepunte verhoog word.

“Die lone van werknemers wat reeds teen hoër as die voorgeskrewe koers besoldig word, mag nie verlaag word nie.”

Klein werkgewers (diegene met tien of minder werknemers) mag werknemers 10% minder as die voorgeskrewe lone betaal, op voorwaarde dat dit nie minder as die nasionale minimum loon is nie, sê Truter.

Ander uitgawes

Benewens die hoër lone, sluit die koste vir werkgewers die volgende in:

  • Heffing vir uitgawes deur die bedingingsraad: Die werkgewer moet R5 per maand per werknemer bydra, en nog R5 per maand moet van elke werknemer se loon afgetrek word.
  • Heffing vir dispuutoplossing: R3 per maand per werknemer deur die werkgewer en ’n aftrekking van R3 per maand van die werknemer se loon.
  • Algemene heffing: R25 per maand per onderneming.
  • Begrafnisvoordeel: R12,50 per maand per werknemer, plus ’n R12,50-aftrekking van elke werknemer se loon.
  • Voorsorgfonds: 5% van werknemers se maandelikse lone, plus ’n 5%-aftrekking van elke werknemer se loon.
  • Uniform: R17,50 per week is aan elke werknemer betaalbaar as van werknemers vereis word om hul eie uniforms te was.
  • Jaarlikse bonus: Elke Desember is ’n verpligte bonus van een week se loon betaalbaar aan werknemers wat minstens 12 maande ononderbroke in diens is, en twee weke se loon aan werknemers wat minstens 24 maande ononderbroke maande in diens is.

Administrasie

Alle ondernemings moet voortaan ’n maandelikse opgawe by die bedingingsraad indien wat die bedrae uiteensit wat deur die werkgewer en die werknemers bygedra is. Die maandelikse opgawes moet ook ingedien word by die entiteite wat die begrafnisvoordeel en voorsorgfonds administreer.

Ander wysigings

Truter sê die ander basiese diensvoorwaardes (soos werkure en verlof) is hoofsaaklik dieselfde as dié wat deur sektorale vasstelling vir die gasvryheidsbedryf (SD14) voorgeskryf word, maar daar is enkele unieke bepalings. Dit sluit in mense wat kommissie verdien en tydelike werknemers by spesiale gesellighede.

“Buiten vir die feit dat werknemers nie mag staak ten opsigte van aspekte waaroor beding en ooreengekom is nie, is daar feitlik geen bepalings wat tot die voordeel van werkgewers is nie.”

Vrystelling

Truter sê dit lyk nie of voorsiening gemaak word vir vrystelling van die ooreenkoms nie, met die uitsondering van klein werkgewers. Hy beskou dit as strydig met die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Wie word nie geraak nie?

Die ooreenkoms geld nie werkgewers en werknemers wat aan die kollektiewe ooreenkomste in die bedingingsrade in Johannesburg en Pretoria onderhewig is nie.

Dit sluit ook spyseniering in hotelle en casino’s uit wanneer dit deur die onderneming self bedryf word, asook spyseniering by sport- en ontspanningsklubs en by vulstasies.

Die klein werkgewers wat om vrystelling aansoek sou kon doen, moet wel ook by die bedingingsraad registreer.

Truter beskou die nuwe voorskrifte as uiters beperkend, veral in ’n bedryf waarin entrepreneurs floreer danksy die feit dat hulle tot dusver unieke reëlings met hul werknemers kon beding.

“Die vraag ontstaan waarom werkgewers nou belas moet word met hierdie nuwe, duur, onbeholpe en sentraal gereguleerde bedeling? Onder gunstige omstandighede ontmoedig dit entrepreneurskap; en tans is dit waarskynlik die slegste moontlike tyd hiervoor.

“’n Groot proporsie van die werkgewers in die bedryf, veral in kitskos, is entrepreneurs. Dié entrepreneurs is gewoonlik sensitief vir koste en vermy rompslomp. Dit is hulle wat veral swaar getref gaan word.”

Fedhasa het verlede week in ’n verklaring gesê: “In dié krisistyd sou dit moreel verkeerd lyk om hofaksie te doen wat verkieslik deur konsultasie, mediasie en besprekings opgelos moet word. As dit egter nie bereik kan word nie, sal die bedryf dalk gedwing word om ’n aansoek om ’n dringende interdik namens ons lede te doen.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Koronavirus  |  Lone  |  Restaurante  |  Inperking  |  Kitskos  |  Loonooreenkoms  |  Covid-19  |  Minimum Loon  |  Kroeë
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.