Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lugdienste dalk nie gereed op vlak 3
FlySafair is een van die lugdienste wat onseker is of dit lewensvatbaar sal wees om slegs beperkte vlugte tydens vlak 3 van die staat van inperking in te stel. Foto: FlySafair

Lugdienste is nie seker of dit ekonomies sinvol sal wees om beperkte vlugte op vlak 3 van die staat van inperking in te stel nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag aangekondig dat beperkte plaaslike vlugte vir veral sakedoeleindes op vlak 3 toegelaat sal word. Hierdie vlak van die inperking tree op 1 Junie in werking.

Die egter nog nie bekend op watter datum die reisverbod verslap gaan word nie.

Hoewel plaaslike sakereise hervat gaan word, sal internasionale vlugte steeds verbied word. Die bedryf is egter nie seker of dit ekonomies lewensvatbaar sal wees om slegs beperkte vlugte aan te bied nie. Boonop volg baie maatskappye tans nog die beleid dat hul werknemers so ver moontlik van die huis af werk.

“Ons is gretig om so gou as moontlik weer te vlieg, en ons respekteer dit dat lugdienste ’n kernrol in die heropbou van die ekonomie sal speel. Ons kan egter nie ons diens hervat sonder ’n lewensvatbare vraag nie, tensy die regering ons bedryf ondersteun,” het Kirby Gordon, hoof van verkope en verspreiding van FlySafair, gesê.

Dit kan gedoen word deur byvoorbeeld die heffings tydelik op te skort wat aan staatsonderneming soos die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), die Burgerlugvaartowerheid, die Lugverkeer-en-navigasiedienstemaatskappy en selfs die Suid-Afrikaanse Weerdiens betaal word.

Volgens Gordon moet daar ook meer duidelikheid oor die toepaslike regulasies wees.

Comair, wat plaaslik Kulula en British Airways bedryf, het gesê die doel van sy sakereddingsproses is om die staat van inperking te oorleef en die lugdiens te herstruktureer in ’n “volhoubare onderneming wat sy rol in die lugdiensbedryf en die land se ekonomiese herstel kan speel”.

Comair is bemoedig deur Ramaphosa se aankondiging, maar is ook onseker of hy sy diens sal kan hervat.

Daar is ook kommer oor die afwesigheid van regulasies wat presies uitstippel hoe die lugvaartbedryf tydens vlak 3 mag werk. “Totdat ons hierdie inligting het en die marktoestande kan beoordeel, sal ons voortgaan om ons te staal vir ’n hervatting van bedryf wat eers in November is,” sê Comair.

Mango, die laekostelugdiens van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), mik egter daarna om wel sy diens te hervat sodra die regering dit toelaat.

Ons sal wel konserwatief moet begin om te kyk hoe groot die vraag is.
Nico Bezuidenhout

Nico Bezuidenhout, uitvoerende hoof van Mango, het gesê die lugdiens sal heropen sodra die regering die datum vasstel waarop dit toegelaat sal word.

“Ons sal wel konserwatief moet begin om te kyk hoe groot die vraag is.”

Die SAL kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Die lugdiens se sakeredders het nie gereageer op navrae oor of die beleërde lugdiens genoeg kontant het om sy diens enigsins te hervat nie.

SA Express se likwidateur, Aviwe Ndyamara, het gesê weens die voorlopige likwidasie van die lugdiens is daar geen aanduiding dat SA Express weer in bedryf gaan tree nie.

Chris Zweigenthal, uitvoerende hoof van die Lugdiensvereniging van Suider-Afrika (Aasa), het ook Ramaphosa se aankondiging verwelkom.

“Om die bedryf se lewensvatbaarheid te verseker is die doelwit om sonder beperkings na die lewering van lugdienste terug te keer,” het hy gesê.

Daar is wel eers tyd nodig om lughawens en vliegtuie gereed te kry en besprekings te open om te kyk wat die vraag na vlugte is.

“Dit sal ’n stadige proses wees om weer die bedrywighede te hervat. Ons beraming is dat die binnelandse lugverkeer teen Desember waarskynlik slegs sowat 60% sal wees van wat dit voorheen was,” het Zweigenthal gesê.

Aasa sal met die departement van vervoer en die Burgerlugvaartowerheid saamwerk om te kyk of hy sy bedrywighede in belang van die regering en alle ander belanghebbendes verder kan ontwikkel. Fin24, verwerk

Meer oor:  Mango  |  Flysafair  |  Comair  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.