Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lugdienste herstel dalk eers teen 2024

Dit gaan tussen twee en vier jaar duur voordat die wêreld se lugvaartbedryf van die Covid-19-pandemie herstel en lugreis op groot skaal hervat word.

Singapore Airlines brand vas weens lugbeperkings wêreldwyd.

Ong Ye Kung, Singapoer se minister van vervoer, sê aan Bloomberg lande sal hul grense vinniger oopstel indien ’n doeltreffende entstof algemeen beskikbaar is. Dit sal mense die vertroue gee om te reis en lugvaart sal “weer byna heeltemal op sy voete kan kom”.

Die International Air Transport Association (Iata), wat nagenoeg 290 lugdienste verteenwoordig, is selfs meer pessimisties as Singapoer en verwag nie dat die getal passasiers voor minstens 2024 sal herstel nie. ’n Onlangse Iata-peiling onder reisigers het bevind 83% sal nie reis as hulle 14 dae lank in kwarantyn moet bly by hul bestemming nie.

Ong sê om reis aan te moedig, moet kwarantyn met doeltreffende toetsing vervang word.

Die staatsbeheerde lugdiens Singapore Airlines ly enorme verliese en het byna 20% van sy personeel afgelê. Die lugdiens het geen plaaslike mark in die stadstaat nie.

Die lugdiens se getal passasiers was in Augustus ’n enorme 98,4% minder as ’n jaar gelede.

Singapoer is ’n oorstaanplek vir derduisende vlugte – ook vir Suid-Afrikaners op pad na onder meer Europa en Australië.

Die plaaslike lughawe, bekend as Changi, was in 2019 die 18de besigste lughawe ter wêreld. Dit het 68,3 miljoen passasiers behartig, volgens Wikipedia. Dit bedien meer as 100 lugdienste wat na 380 stede vlieg, met ’n vliegtuig wat in die jaar nagenoeg elke 80 sekondes opgestyg of geland het.

Planne om ’n vyfde terminaal by Changi te bou, is vir eers opgeskort.

In Suid-Afrika is verskeie lugdienste, onder meer Kulula, steeds nie weer in bedryf sedert die Covid-19-inperkings vlugte gehok het nie. Die eerste Kulula-vlugte word eers in Desember hervat.

Comair, wat Kulula bedryf, is in sakeredding weens die Covid-19-krisis. Krediteure en aandeelhouers het onlangs die groep se sakereddingsplan goedgekeur, wat beteken dat ’n konsortium beleggers wat bestaan uit voormalige Comair-direkteure en bestuurslui 99% van die maatskappy vir R500 miljoen gaan koop.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens, wat ook in sakeredding is, maar reeds voor Covid-19 diep in die moeilikheid was, wag op R10,3 miljard se finansiering van die staat om sy sakereddingsplan deur te voer. Daar word geglo dat Tito Mboweni, minister van finansies, iets daaroor gaan sê wanneer hy op 28 Oktober sy mediumtermynbegrotingsraamwerk by die parlement indien.

Meer oor:  Singapore Airlines  |  Lugdienste  |  Koronavirus  |  Inperking  |  Vlugte  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.