Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lugdienste sukkel om staande te bly

Geen lugdiens kan ’n diens verskaf en staande bly met die huidige reisbeperkings in Suid-Afrika nie, sê die vervoerekonoom Joachim Vermooten.

Vlug FA129 van O.R. Tambo na Kaapstad verlede week was lekker vol. Foto: Waldimar Pelser

Elmar Conradie, uitvoerende hoof van FlySafair, beaam dit. Dié redery se bedrywighede is tans nog maar sowat ’n vyfde van wat dit voor die Covid-19-inperkings was.

Vlugte tussen Johannesburg, Kaapstad en Durban het verlede maand hervat, maar met streng beperkings. Reëls soos dat mense net vir sakedoeleindes mag reis en dokumente ter stawing daarvan moet hê, skrik passasiers af, sê Vermooten.

Volgens Conradie het FlySafair aanvanklik weggespring met twee vlugte per dag in elke rigting tussen Kaapstad en die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg, maar moes dit halveer weens die flou aanvraag.

Die getal passasiers op dié vlugte wissel nog, maar dis nou darem al nader aan 80% vol en FlySafair kan die bykomende vlugte nou terugbring.

Die ander vlugte, tussen Johannesburg se Lanseria-lughawe en Kaapstad, Lanseria en Durban, en Durban en Kaapstad is nog halfvol.

“Die tendens is darem opwaarts,” sê Conradie. “Dis moeilik, want ’n mens kan beskikbaarheid (van sitplekke) nie inkrementeel vermeerder nie. As jy ’n vlug bysit, is die gemiddelde besetting weer laag.”

Volgens Conradie is FlySafair nog “baie ver daarvan om geld te maak”. In geheel betaal die vlugte darem vir hul eie direkte koste, sê hy. Dit was moeilik om aanvanklik te besluit of FlySafair dadelik weer moes begin vlieg of nie, wetende dat dit die maatskappy baie geld gaan kos, sê Conradie.

“Ons het besluit om vlugte te hervat sodat ons ons personeel kan betaal, en boonop kan vliegtuie nie net staan nie.”

Tans is personeel se salarisse verlaag ooreenkomstig die inkrimping van vliegbedrywighede. Dit sal verhoog namate dinge normaliseer.

Conradie sê vliegtuie kan ook nie net in onbruik staan nie. Dít lei tot allerlei komplikasies met instandhouding.

Om die situasie die hoof te bied het FlySafair lenings aangegaan en uitstel gekry vir die betaal van vliegtuighuur, maar dis ’n onomwonde feit dat die skuldlas net groter word, sê hy. Aanvanklik het die maatskappy gereken daar is genoeg kontant om twee maande sonder enige inkomste te oorleef. Danksy die verslapping van regulasies vloei ’n stroompie geld darem nou weer in.

“Ons sal nog vir ’n hele ruk oukei wees, maar die gat word groter. Daar sal ’n draaipunt moet kom, sodat ons die gat wat nou groei, kan begin toemaak.”

Lughawens heropen

Intussen mag meer binnelandse lughawens nou heropen. Daaronder is die Bram Fischer-lughawe in Bloemfontein, die Kruger-Mpumalanga-lughawe en dié by Pietermaritzburg, Port Elizabeth, Richardsbaai, Skukuza en Upington.

Van volgende week af sal FlySafair 22 vlugte per dag bedryf, vergeleke met die 84 voor Covid-19 toegeslaan het.

Tash Webb, hoof van Flight Centre se lugvaartafdeling, sê hulle doen wat hulle kan om voornemende passasiers gerus te stel oor die reiniging van vliegtuie. Benewens dié kommer demp die druk op maatskappye se finansies ook vlugbesprekings.

Vermooten sê ’n lugdiens moet vryelik kan sake doen om te kan oorleef. Dit is van kritieke belang dat hulle vlugte op kort kennisgewing kan vermeerder of verminder om by marktoestande aan te pas, wat nie in die huidige omstandighede moontlik is nie. Boonop is vakansie- en plesiervlugte, wat nie nou toegelaat word nie, onontbeerlik vir die bedryf se oorlewing.

Vermooten sê daar word algemeen aanvaar ’n vliegtuig moet agt uur per dag in die lug wees om lonend bedryf te word. Boonop is die norm dat vlugte 82% vol moet wees.

Meer oor:  Flysafair  |  Inperking  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Koronavirus  |  Sakeredding  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.