Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lugvaart ‘gaan eers oor jare’ van Covid-19 herstel
Vliegtuie van American Airlines staan op ’n aanloopbaan geparkeer op die Tulsa-lughawe in die Amerikaanse deelstaat Oklahoma. Foto: Reuters

Die lugvaartbedryf gaan waarskynlik ná die wêreldwye Covid-19-pandemie baie anders as voorheen lyk.

“Die vraag is nie net watter lugdienste die pandemie gaan oorleef nie, maar ook wat mense se siening van lugreise gaan wees,” sê John Grant, ontleder by OAG, ’n Britse maatskappy wat wêreldwyd inligting oor lugvervoer insamel.

Grant sê wanneer lande se grense weer oopgestel word, is die vraag of mense dit sal kan bekostig om te vlieg.

Hy sê ook baie ondernemings het te midde van die staat van inperking in hul onderskeie lande geleer dat hul werknemers nie noodwendig hoef te reis nie en dat hulle tegnologie vir vergaderings kan inspan.

’n Kitspeiling wat OAG twee weke gelede gedoen het onder mense wat ’n aanlyn seminaar bygewoon het, wys dat 82% van hulle dink dat mense ná afloop van die Covid-19-pandemie minder sakereise gaan onderneem, terwyl 61% meen dat mense ook minder vir ontspanning gaan reis.

Grant het Woensdagoggend saam met sy kollega Mark Clarkson, asook KeeKeat Ong, direkteur van Cebu Pacific, en Deirdre Fulton, vennoot van Midas Aviation, ’n aanlyn seminaar oor die invloed van die pandemie op die lugvaartbedryf gehou.

OAG se syfers wys dat lugverkeer in die week voor 6 April vanjaar 59% laer as in die ooreenstemmende week verlede jaar was.

Die beskikbare sitplekke oor dieselfde week-tydperk het van 109 miljoen ’n jaar gelede tot net 39 miljoen gedaal.

Talle van die groot lugdienste bied tans minder as 10% van hul aantal vlugte van ’n jaar gelede aan.

In die kitspeiling was 54% van respondente van mening dat baie lugdienste weens die impak van die Covid-19-pandemie bankrot gaan speel.

Clarkson sê baie lugdienste wêreldwyd het reeds aangekondig dat hulle gaan herstruktureer en dat die pandemie hul bedrywighede oor ’n langer tydperk as net aan die begin van 2020 gaan beïnvloed.

Hy wys op Lufthansa se verklaring Dinsdag waarin dié lugdiens aangekondig het dat hy onder meer Germanwings, sy laekostediens, gaan sluit.

Lufthansa sê in die verklaring “dit gaan maande wees” voordat alle reisbeperkings gelig gaan word en “jare” voordat die vraag na lugreise tot dieselfde vlakke as voor die pandemie bereik gaan word.

In Suid-Afrika het die sakeredders wat by SA Express aangestel is, reeds voor die staat van inperking ’n hofaansoek om die lugdiens te likwideer by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is ook in sakeredding en vlieg glad nie gedurende die staat van inperking wat sedert 27 Maart van krag is nie.

Comair, wat British Airways in Suid-Afrika bedryf, asook die laekoste-lugdiens Kulula.com het ook reeds vroeër met ’n herstruktureringsproses ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge begin.

In die eerste fase hoop hy om sy uitvoerende bestuur se salarisrekening met 50% te sny, het die woordvoerder bevestig. In die tweede fase van die proses kan sowat 200 mense, onder wie bestuurslede, uit die totale arbeidsmag van 2 100 hul werk verloor.

Clarkson sê hoewel van die respondente in die peiling meen dat regerings reddingsboeie aan lugdienste moet gee, dink hy nie dit gaan gebeur nie. Hy meen regerings het bloot nie die geld daarvoor nie. Watter geld ook al beskikbaar is, sal aan ander dinge bestee word.

vlugte

Meer oor:  Lufthansa  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Sa Express  |  Comair  |  Covid-19  |  Vlugte  |  Lugdienste  |  Vliegtuie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.