Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Maatskappye klou vas aan hul geld

Nuwe navorsing wys groot maatskappye het baie geld vir beleggings beskikbaar, maar hulle hou vas daaraan.

Groot maatskappye op die JSE sit met reserwes van sowat R1 400 miljard, het die Universiteit van Johannesburg (UJ) se sentrum vir mededinging, regulasie en ekonomiese ontwikkeling (CCRED) bevind.

Dié syfer is aan die toeneem. In 2005 was dit R242 miljard.

R1 600 miljard se reserwes van multinasionale maatskappye op die JSE wat ’n klein teenwoordigheid in Suid-Afrika het, is buite rekening gelaat.

Die verbasende ding is dat baie van die groot vasklouers aan kontant, genoteerde eiendomsbeleggingsfirmas is, sê Thando Vilakazi, ’n senior navorser by die sentrum.

Hy sê banke het waarskynlik goeie rede om ekstra geld in reserwe te hou, maar dit is vreemd dat maatskappye in die eiendomsektor dit doen.

“Daar is eiendomsmaatskappye wat min aktiwiteit in die Suid-Afrikaanse mark het, maar wat die JSE gebruik om kapitaalbeleggings in Brittanje en Oos-Europa te finansier,” sê hy.

Die laaste keer dat daar groei in beleggings was, was om en by 2000 toe kommoditeite goed gevaar en die land hom op die Wêreldbeker voorberei het.
Thando Vilakazi van UJ

Dit is hoe dit werk wanneer jy oop kapitaalmarkte het, sê hy.

“Dit kom terug na die geleentheidskoste vir die plaaslike ekonomie en hoe jy dalk sommige van die beleggings in hierdie rigting sou kon voer,” sê hy.

Korporatiewe Suid-Afrika is al daarvan beskuldig dat hulle besig is met ’n beleggingstaking, maar Vilakazi sê “staking” is die verkeerde woord, want dit impliseer dat die maatskappye saamgespan het om hul beleggings te weerhou. Dit is nie die geval nie.

Maar dit is wel duidelik dat beleggings opgedroog het.

“Die laaste keer dat daar groei in beleggings was, was om en by 2000 toe kommoditeite goed gevaar en die land hom op die Wêreldbeker-sokkertoernooi voorberei het.

“As daar ’n probleem met beleggings is, is dit vir seker nie weens ’n gebrek aan geld nie. Maar daar kan belangrike redes wees waarom die maatskappye nie tans hier belê nie.

“Benewens beleidsonsekerheid is daar ook ’n lae-vraag-siklus. Jy gaan bou nie ’n fabriek as jy nie toekomstige wins daaruit verwag nie,” sê hy.

Die CCRED se navorsing toon groot voedselmaatskappye is meer geneig om geld vir nuwe projekte buite Suid-Afrika te gee.

“Hul groei in Suid-Afrika was hoofsaaklik groei danksy verkrygings,” sê Vilakazi.

Kan ons toelaat dat R1 400 miljard nie in die ekonomie teruggeploeg word nie, vra hy.

“As jy kyk na die geskiedenis van lande wat laat geïndustrialiseer het, soos in Suidoos-Asië, of verder terug na die VSA en Europese lande, is dit duidelik hulle is gebou deur reuse-monopolieë. Dit is omdat bewegings en besluite van groot firmas groot impak het.

“As groot firmas belê, beteken dit invloei in die ekonomie. Die bestaan van ingenieursdienste in Suid-Afrika is te danke aan die mynboubedryf,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.