Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mafias op boupersele ‘nasionale krisis’
konstruksie
Die staat moet mafias op boupersele met dieselfde erns hanteer as wat hy transitorooftogte hanteer. Foto: Unsplash

Mafias wat op boupersele opdaag en kontrakteurs en werkers met geweld dreig, is ’n nasionale krisis.

Die staat moet dit met dieselfde erns hanteer as wat hy transitorooftogte hanteer, sê Chris Campbell, uitvoerende hoof van Consulting Engineers SA (Cesa).

“Suid-Afrika se konstruksiemaatskappye sukkel reeds om mense in diens te hou weens die sukkelende ekonomie.

“Hierdie probleem maak die sektor selfs net nog onaantrekliker vir maatskappye,” sê hy.

Campbell het gereageer nadat die konstruksiemaatskappy Aveng en sy Oostenrykse vennoot, Strabag International, Maandag aangekondig het hulle gaan nie meer die Mtentu-brug aan die Wildekus vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) bou nie.

Hulle sê hul besluit is in die lig van gewelddadige betogings deur plaaslike inwoners wat onder meer aangedring het op werk. Dit is onmoontlik om so ’n komplekse projek te voltooi in die lig van dié situasie, sê hulle.

Sanral sê egter prontuit Aveng lieg en dat hy eintlik weens finansiële probleme wil onttrek.

Sanral sê die probleme het aandag gekry en is in ’n ooreenkoms met die gemeenskap opgelos. Hy het vroeër erken werkers en bestuurders is selfs met aanvalsgewere gedreig en dat die betogers “ontwrigtend, dreigend en intimiderend” was.

Campbell sê hoewel Cesa nie besonderhede het oor presies wat die geval is by die Mtentu-brug nie, “weet ons vir ’n feit geweld is ’n probleem op boupersele”.

“Boonop het Sanral en selfs die minister van openbare werke al voorheen erken hulle is bewus van dié probleem,” sê Campbell.

Chris Campbell is ’n professionele ingenieur, uitvoerende hoof van Consulting Engineers South Africa (Cesa) en die uittredende president van die Suid-Afrikaanse Raad van Ingenieurs.

Misdadigers eis persentasie van kontrak

Maatskappye werk deur die nasionale tesourie se aanlyn platform om kontrakteurs aan te stel, maar dan daag daar ’n misdadige element by boupersele op wat daarop aandring dat ’n persentasie van die kontrak aan hulle gegee word, sê Campbell.

“Dit is sonder dat enige prosesse gevolg is of dat hulle selfs aanbied om vir die geld te werk.

“Ons het al selfs gehoor dat ’n ‘sakeforum’ op ’n perseel opdaag en sê ‘ons is julle nuwe sementverskaffers’. Dit is ondanks die feit dat die konstruksiemaatskappy reeds ’n tenderproses gevolg en ’n verskaffer aangestel het.”

Lees ook: ‘Mafia’ hou aan lol met bouprojekte

“In een geval het ’n minibus vol mense wat vuurwapens rondswaai, glo by ’n perseel opgedaag.

“Hulle het aanmerkings gemaak oor hoe ‘goedkoop ’n patroon is’.

“Hulle het basies geëis dat hulle vergoed word om die veiligheid van werkers te verseker,” sê Campbell.

Hy sê geweld is by die volgende persele aangemeld:

  • Die Johannesburgse padagentskap se projekte in Diepsloot, wes van Johannesburg;
  • Sanral se wisselaar in Umhlanga, noord van Durban; en
  • In die Oos-Kaap waar dié provinsie se departement van behuising werksaam is.
Meer oor:  Aveng  |  Sanral  |  Bedrog  |  Mafia  |  Korrupsie  |  Konstruksiemaatskappy  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.