Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Makro sê waarom sy kassiere nie maskers dra
Kopers staan in lang rye in ’n Makro-tak in Pretoria kort voordat die staat van inperking van krag geword het. Foto: Deaan Vivier

Die groothandelaar Makro is in Port Elizabeth voor stok gekry omdat sy kassiere te midde van die Covid-19-pandemie sonder gesigmaskers werk.

’n Woordvoerder van Massmart, eienaar van Makro, het egter Maandag aan Netwerk24 verduidelik dit is ’n doelbewuste stap deur die maatskappy.

“Ons het verskeie opsies ondersoek om ons personeel te beskerm en ook die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in ag geneem,” sê die woordvoerder.

Daar is bevind dat gesigmaskers nie die optimale manier is om werknemers in winkels, onder wie pakkers en kassiere, teen die verspreiding van die koronavirus te beskerm nie.

“Eerstens ontneem dit gesondheidswerkers van gesigmaskers wat reeds ’n ernstige tekort daaraan het. En tweedens word die doeltreffendheid daarvan bevraagteken as ’n beskermende maatreël vir die persoon wat dit dra.”

Die WGO se riglyne bepaal dat die dra van ’n gesigmasker net nodig is as jy siek is en wil keer dat jy die virus na ander oordra – nie andersom nie.

Indien jy nie siek is nie, is dit nie nodig om ’n masker of handskoene te dra nie.

Makro se werknemers dra derhalwe ook nie handskoene nie. Massmart het eerder handreinigers aan al sy werknemers beskikbaar gestel, soos die WGO aanbeveel.

Gesigmaskers

So lyk die tipe maskers waarvan Makro sy personeel nou gaan voorsien. Foto: Amazon

Wat betref die dra van gesigmaskers het Massmart besluit om al sy werkers van ’n plastiekskild te voorsien wat voor die gesig gedra word.

“Dit skep ’n stewige versperring tussen die persoon en diegene met wie hulle interaksie het.”

Hoewel Massmart reeds die “maskers” van plastiek vir sy personeel bestel het, is daar ’n “aansienlike tekort” daaraan in Suid-Afrika, wat die lewering daarvan bemoeilik.

Die maatskappy kon intussen wel daarin slaag om genoeg voorraad te bekom en sal dit nou na sy winkels versprei. Prioriteit sal aan kassiere gegee word om eerste die nuwe maskers te ontvang.

Massmart besit ook onder meer Game- en Builders-winkels. Builders is egter tydens die staat van inperking gesluit.

Kassiere en ander personeel in sy ander winkels dra ook nie maskers nie, maar in baie gevalle verskil dit ook van een tak tot ’n volgende in dieselfde winkelgroep.

Meer oor:  Massmart  |  Makro  |  Game  |  Covid-19  |  Gesigmaskers  |  Koronavirus  |  Maskers  |  Winkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.