Die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) het ’n kennisgewing om te staak aan die Mango-lugdiens beteken.
“Ons reik uit na die vakbond aangesien daar ’n fout op die kennisgewing was,” het Nico Bezuidenhout, uitvoerende hoof van Mango, op die maatskappy se webblad aangekondig.

Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) Foto: Verskaf
“Ons personeel het egter die versekering gegee dat hulle daartoe verbind is om Mango vorentoe te laat beweeg en daarom nie aan die staking sal deelneem nie,” het Bezuidenhout verder bygevoeg.
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) word sedert verlede Vrydag verlam deur die voortslepende staking wat Sacca saam met die metaalwerkersvakbond Numsa dryf.
Nie een van die twee vakbonde kon Woensdagaand dadelik vir kommentaar bereik word nie.
Vakbonde dring aan op ’n salarisverhoging van 8%, terwyl die SAL ’n verhoging van 5,9% aanbied wat eers vanaf Maart ingestel word.
Intussen het Thandeka Mgoduso, waarnemende voorsitter van die SAL se direksie, Dinsdag gesê die SAL gaan weer twee retoervlugte per dag tussen Johannesburg en Kaapstad en een tussen Johannesburg en Durban in werking stel.
Die SAL werk steeds saam met Mango en SA Airlink om passasiers wat op 21 en 22 November besprekings het om binnelands te vlieg op ander vlugte te akkommodeer. Dit is vir passasiers wat ander roetes of tye vlieg as dié wat heringestel word.