Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mango-sakeredding Dinsdag voor hof

Alle oë is gerig op die hooggeregshof in Johannesburg wanneer vakbonde se dringende hofaansoek om Mango in sakeredding te plaas, Dinsdag voor die hof sal dien.

Die vakbonde by die staat se laekostelugdiens, wat ’n filiaal is van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), meen die regering is nie ernstig daaroor om Mango te probeer red nie.

Dit kom nadat die Mango-direksie volgens die vakbonde verlede week ’n direksiebesluit van April vanjaar wou laat herleef deur Mango in vrywillige sakeredding te plaas, luidens ’n verklaring wat die naweek uitgereik is.

Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) steun die vakbonde se siening dat dié besluit nie geldig is nie, luidens ’n gesamentlike verklaring van die Mango-vlieëniersvereniging (MPA), die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en die metaalwerkersvakbond Numsa.

Nou het Mango vir CIPC as ’n derde party tot die hofsitting Dinsdag gevoeg, en hy dreig volgens die vakbonde dat hy die regskoste van die vakbonde en van die CIPC sal eis as hulle nie instem tot die direksie se siening van ’n vrywillige sakeredding nie.

“Dit is verregaande dat ministersinvloed en druk weer gebruik word om een van die belangrikste vervoerinstellings van ons ekonomie aan te val,” sê Zazi Ntsibanyoni-Mugambi, president van Sacca, in die verklaring.

DURBAN, SOUTH AFRICA - JULY 08: Mango airlines dur
Die King Shaka-internasionale lughawe in Durban. Foto: Gallo Images

Die CIPC se beswaar teen die Mango-direksie se besluit oor ’n vrywillige sakeredding is dat die direksie nie behoorlik saamgestel was toe dié besluit in April geneem is nie. Te veel tyd het boonop verstryk sedert die besluit geneem is, want wetgewing skryf ’n spesifieke tydperk voor waarbinne ’n sakeredding in werking gestel moet word nadat die besluit geneem is. Die besluit moet saamloop met voorskrifte van die Maatskappywet, asook met die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies om geldig te wees.

Jordan Butler, voorsitter van die MPA, meen Mango kan nie wegspring met vrywillige sakeredding sonder dat al die nodige prosesse gevolg is nie.

Die vakbonde bespiegel oor waarom die SAL as Mango se beheergroep so graag wil hê die vakbonde moet hul dringende aansoek vir sakeredding onttrek. Hulle gis dat die SAL vir Mango wil opoffer sodat die nuwe private konsortium se laekostelugdiens, Lift, die gaping kan vul.

Terwyl Mango se vlugte verlede week op kort kennisgewing opgeskort is weens agterstallige skuld aan die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika en ander diensverskaffers, het Lift juis aangekondig dat hy van vandeesmaand af sy vlugte hervat.

Lift is begin deur Gidon Novick, eertydse medestigter van Comair se laekostefiliaal kulula.com.

Mense het al vergeet dat Mango met sy stigting in 2006 die sakemagnaat Christo Wiese as voorsitter gehad het, en dat die gerespekteerde dr. Jakes Gerwel in die eerste Mango-direksie was, in sy hoedanigheid as destydse voorsitter van die SAL.

Die SAL het Mango gestig in ’n tyd toe laekostelugdienste net begin vlamvat het in Suid-Afrika en aan sy markaandeel begin wegvreet het. Dit het begin met kulula.com se stigting in 2001 en daarna 1time in 2004. Dit het ’n reeks prysoorloë ontketen in die binnelandse vliegmark, met vliegkaartjies wat vir so min verkoop is dat dit selfs goedkoper was as om ’n langafstandbus te neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.