Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mango, SAL sit vas oor PE-roete
Nic Vlok, waarnemende uitvoerende hoof van Mango.

Die staat se laekostelugdiens Mango het ’n nuwe baas in ’n tyd van groeiende druk op sowel Mango as Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), waarvan hy ’n filiaal is.

Nic Vlok is pas aangestel as waarnemende hoof van Mango in die plek van Nico Bezuidenhout, wat vroeër bedank het.

Onderliggende spanning tussen die Mango-bestuur en die SAL blyk uit die uitgelekte verslag oor die SAL se finansiële prestasie in die kwartaal tot einde Junie.

Dis veral oor die manier waarop die relatief stil vliegroete tussen Johannesburg en Port Elizabeth bestuur word wat spanning tussen die SAL en Mango veroorsaak het.

Luidens die verslag het die SAL aanvanklik beplan om nie meer tussen die Goudstad en die Baai te vlieg nie, en dat Mango al die vlugte sou oorneem. Later is besluit die SAL se onttrekking aan die roete sal geleidelik wees, maar dit blyk Mango het sonder konsultasie met die SAL ekstra vlugte op die Port Elizabeth-roete geplaas.

Die SAL evalueer die moontlikheid om een minder vlug na Port Elizabeth aan te bied op sommige dae, maar om die roete heeltemal te laat vaar, word nie aanbeveel nie, lui die verslag, want dit dra meer as R180 miljoen se inkomste per jaar by van passasiers wat dit as ’n aansluitingsvlug na ander bestemmings gebruik.

Dit blyk talle korporatiewe kliënte was nie gemaklik met Mango se diens op die roete nie, en het gesê hulle sal eerder na British Airways of ’n ander mededinger skuif as die SAL nie meer Baai toe vlieg nie.

Die verslag wys Mango het in die eerste kwartaal ’n omset van R472 miljoen behaal, 1% minder as ’n jaar gelede se R477 miljoen.

Mango se vliegtuie was egter 81% vol in die tydperk teenoor die SAL se 74% op binnelandse roetes. Dit is minder as ’n jaar gelede se 82%.

Volgens Mango is Vlok ’n “kundige en hoogs ervare beroepsmens met 35 jaar se ervaring in lugvaart”. Vlok was ook die waarnemende hoof toe Bezuidenhout in 2014 en 2015 as hoof by die SAL waargeneem het.

Mango sê die direksie sal binnekort sy soektog na ’n nuwe uitvoerende hoof begin.

Bezuidenhout is sedert 1 Augustus hoof van FastJet, ’n opkomende Afrika-laekostelugdiens.

Ná Bezuidenhout se bedanking het die SAL gesê hy subsideer Mango en verhuur vliegtuie aan sy laekostefiliaal teen heelwat laer as die markwaarde, met die implikasie dat dít die eintlike rede vir Mango se sukses is en nie danksy Bezuidenhout se bekwame bestuur nie.

Die SAL het daarna ontken dat dit die geval is en gesê dat hy die vliegtuie wat hy die afgelope tien jaar aan Mango verhuur, wel teen die volle kostevervanging verhuur het.

Intussen berig Business Day dat Cynthia Stimpel, die geskorste tesouriehoof van die SAL, Donderdag ’n dringende aansoek by die arbeidshof gaan indien om te keer dat die lugdiens haar aan ’n dissiplinêre verhoor onderwerp.

Stimpel het volgens BDLive vroeër gewaarsku die tender van die finansier BnP Capital vir die herstrukturering van die SAL se skuld en die vind van finansiering van R15 miljard was te duur. Dit was drie keer duurder as die naaste kwotasies wat van banke soos Absa en RMB ontvang is, het sy aan Phumeza Nhantsi, die SAL se finanshoof, gesê.

Stimpel is op 13 Julie geskors, want sy het maatskappy­dokumente verwyder wat volgens die SAL ’n oortreding van die lugdiens se etiek- en gedragskode is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.