Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mango se vlerke geknip, sakeredding lê voor

Die laekostelugdiens Mango, ’n filiaal van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het óók nou gevra dat hy in sakeredding geplaas word.

Mango se vliegtuie sal van 1 Mei af op die grond bly. Foto: News24

In ’n interne e-pos aan werknemers, wat Netwerk24 gesien het, sê William Ndlovu, waarnemende uitvoerende hoof van Mango, dat alle vlugte van 1 Mei af gestaak word.

Mango wag al sedert Oktober verlede jaar vir sy deel van die reddingsboei wat die regering aan die SAL toegestaan het.

Sowat R2,7 miljard van die beloofde R10,5 miljard aan die SAL is veronderstel om te gaan na sy filiale Mango, SAL-Tegnies en AirChefs.

Ndlovu verduidelik in sy e-pos dat hy in Oktober beloof is die geld sou in Januarie oorbetaal word.

Januarie het gekom en gegaan en toe is gehoop dat die geld in Februarie sou kom.

Dit is nou April, en daar was nog geen teken van hierdie geld nie.

Ndlovu sê Mango is aan die begin van April in kennis gestel dat die geld eers in Junie beskikbaar sal wees.

Dit is egter te laat vir Mango se krediteure, wat nou al maande lank geduldig wag vir betaling.

Nadat die reddingsboei in Oktober aankondig is, het Mango met sy krediteure onderhandel dat hulle in Januarie betaal sal word sodra die reddingsboei ontvang is.

Ndlovu wou nie Vrydag aan Netwerk24 sê hoeveel Mango sy krediteure skuld nie.

Die krediteure sê egter nou hulle kan nie langer wag nie.

“Dit het Mango in ’n moeilike situasie geplaas,” skryf Ndlovu in die e-pos.

Gedagtes en gevoelens skep ons omstandighede deur frekwensies wat ons vibrasies bepaal.
William Ndlovu

Die krediteure het ’n ultimatum gestel dat as hulle nie hul geld teen 30 April ontvang nie, alle vliegtuie op die grond moet bly totdat hulle betaal is.

Die regering het bevestig dat die geld eers in Junie betaal sal word. Mango het dus geen ander keuse as om sy bedrywighede van 1 Mei af te staak nie.

Ndlovu sê daar is besluit dat Mango in sakeredding moet gaan vir die tydperk wat hy nie mag vlieg nie.

Die SAL-direksie het ingestem, en die versoek is nou aan die aandeelhouer (die departement van openbare ondernemings) gerig.

Nldovu sê nog geen antwoord is van die departement af gekry nie. “Daarom vertel ek u baie hartseer dat ons bedrywighede van 1 Mei 2021 tydelik gestaak sal word tot tyd en wyl ons finansiering ontvang of die sakereddingsproses voltooi is, indien dit deur die departement van openbare ondernemings ondersteun word,” skryf Ndlovu in die e-pos.

Maar hy gaan verder: “Dit is op hierdie punt dat ons gedagtes en gevoelens daarop ingestel moet wees om toe te sien dat Mango die huidige storm oorleef. Die universele energie, of God, reageer altyd op ons vibrasies. Ons vibrasie word veroorsaak deur ons frekwensie, ons frekwensie word veroorsaak deur ons gedagtes en gevoelens.

“Gedagtes en gevoelens skep ons omstandighede deur frekwensies wat ons vibrasies bepaal.

“Ek glo dat as ons op hierdie oomblik ons vibrasie kan regkry deur toe te sien dat Mango gered word, sal die heelal, of God, soos altyd, positief op ons vibrasie reageer.

“Laat ons ons gedagtes en gevoelens helder hou met ’n positiewe verwagting!” 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.