Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mango vlieg, maar toekoms bly duister

Mango sal wel aanhou vlieg vanaf Saterdag 1 Mei, ten spyte van kommer oor sy versuim om diensverskaffers te betaal.

Benediction Zubane, woordvoerder van Mango, sê aan Netwerk24 dat alle vlugte Saterdag en daarna “soos normaalweg” sal voortgaan.

Daar is egter geen waarborg dat Mango nie herstruktureer gaan word nie, sê die departement van openbare ondernemings.

LEES OOK: SAL se sakeredding amptelik verby

Zubane sê die departement het vir hulle gesê “die geld is op pad”.

Mango is oortuig hy kan aanhou vlieg vanaf 1 Mei, maar die departement van openbare ondernemings is nie so seker nie. Foto: Mango

Mango skuld miljoene aan diensverskaffers en ander krediteure wat hom aan die begin van April gewaarsku het dat hy vanaf 1 Mei gehok sal moet word. Mango het die afgelope week reeds passasiers ontwrig toe vlugte gekanselleer is weens die wanbetaling van lughawetariewe aan die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa).

’n Deel van die skuld aan Acsa is inderhaas betaal en vlugte is Donderdag hervat, maar tot Vrydagmiddag was daar geen sekerheid oor Mei nie.

Mango wag op sy deel van R2,7 miljard wat aan filiale van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) belowe is uit die reddingsboei van R10,5 miljard wat deur die tesourie bewillig is.

Zubane sê die geld gaan “nou kom”; dus kan hulle aanhou vlieg.

Die departement van openbare ondernemings wou nie Vrydag aan Netwerk24 sê of die geld werklik “op pad” is nie.

“Ons wil nie nou iets deurmekaar daaroor sê nie,” sê Richard Mantu, woordvoerder van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Hy was huiwerig om enigsins te bevestig dat geld op pad is na Mango.

Wat hy wel gesê het, is dat niks verander het wat betref die verantwoordelikheid van die parlement om eers die reddingsboei in geheel as deel van ’n spesiale bewilligingswetsontwerp goed te keur nie.

“Die verantwoordelikheid lê steeds by hulle,” sê Mantu.

Die parlement is tot volgende week  in reses.

Hoe Mango oortuig geword het dat geld op pad is, is onduidelik.

Zubane sê bloot dat die aandeelhouer (die departement van openbare ondernemings) gesê het dit is.

Intussen is Mango oortuig dat hy sy krediteure en diensverskaffers “binne die volgende paar dae” sal kan betaal.

Dus is hy ook oortuig dat hy mag aanhou vlieg.

In ’n verklaring oor die einde van die sakereddingsproses by die SAL Vrydag sê die departement van openbare ondernemings dat die voortbestaan van Mango nie verseker is nie.

Die nuwe direksie van die SAL moet nou die finansiële bestuur van sy filiale, AirChefs, SAL Tegnies en Mango, oorneem en herstruktureer, maar “in sommige gevalle sal hulle moet besluit oor die voortbestaan van die filiale”.

Die SAL was sedert Desember 2019 in sakeredding. Die proses is Vrydag afgehandel.

Die lugdiens sal na verwagting weer in Augustus vlieg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.