Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mango vlieg weer, maar wat van Saterdag?

Mango het Donderdag sy geskeduleerde vlugte hervat ná die chaos Woensdag op lughawens toe alle vlugte gekanselleer is.

Mango-vlugte is Donderdag hervat, maar ná Vrydag is die lugdiens nie seker of hy meer sal kan vlieg nie. Foto: Mango

Die lugdiens is egter steeds in noodgesprekke gewikkel om te probeer verseker hy kan op 1 Mei aanhou vlieg.

Benediction Zubane, woordvoerder van Mango, sê aan Netwerk24 dat die lugdiens tans met die departement van openbare ondernemings en die nasionale tesourie vir “noodfinansiering” onderhandel.

Geld is nodig om te verseker dat die lugdiens sy agterstallige lughawetariewe aan die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) ten volle kan betaal. Dié agterstallige geld, waarvan ’n deel Woensdag inderhaas betaal is, was die rede dat Mango op die land se groot lughawens gehok is.

Mango skuld ander diensverskaffers ook miljoene rande. Hulle het die lugdiens vroeër in April in kennis gestel dat dienste opgeskort sal word en hy alle vlugte sal moet hok vanaf 1 Mei indien hy nie sy agterstallige skuld aan hulle vereffen nie.

Mango is glo al maande agterstallig met die betaling vir dienste. Volgens ’n aanvanklike ooreenkoms met krediteure moes dit al in Januarie betaal geword het.

Mango is die laekostefiliaal van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en moet R2,7 miljard ontvang van ’n reddingsboei van R10,5 miljard wat die tesourie aan die SAL belowe het.

Netwerk24 het Woensdag vasgestel dat die reddingsboei nog nie uitbetaal is nie omdat die parlement nog nie die spesiale bewilligingswetsontwerp wat dit magtig, onder oë gehad het nie.

Die portefeuljekomitee vir openbare ondernemings moet dit bespreek, maar die parlement is in reses tot volgende week.

Mango se vlugte is Woensdag deur Acsa gehok omdat hy nie tariewe vir parkeerplek en ander gelde vir die gebruik van Acsa se lughawens betaal het nie.

Mango het laatmiddag ’n noodooreenkoms met Acsa gesluit en ’n gedeelte van die gelde oorbetaal, met die belofte dat die res op pad is.

Acsa het Mango toe gemagtig om weer sy lughawens te gebruik.

William Ndlovu, waarnemende uitvoerende hoof van Mango, het werknemers vroeër in April gewaarsku dat Mango nie meer vanaf 1 Mei sal kan vlieg nie.

Ndlovu kon nie vir verdere kommentaar bereik word nie.

Zubane sê egter die huidige gesprekke met die regering gaan juis oor die lugdiens se bedrywighede vanaf 1 Mei.

Dis onduidelik of die tesourie enige geld beskikbaar kan maak voordat die parlement die spesiale bewilligingswetsontwerp goedkeur.

“Ons vlieg nog Vrydag (30 April), dis al wat ek vir jou kan sê,” sê Zubane.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.