Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Maria Ramos ‘moes Prasa, Transnet nie geskei het’

Dit was ’n fout van Maria Ramos, ’n vorige hoof van Transnet, om die bedrywighede van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) te skei van die res van Transnet en dit ’n afsonderlike onderneming te maak.

Maria Ramos, vorige uitvoerende hoof van Absa, was ook voorheen Transnet se uitvoerende hoof. Foto: Getty Images

Só meen die vakbond Untu, wat die meeste werknemers by Prasa, Transnet, die Spoorveiligheidsreguleerder en die Gautrein verteenwoordig.

Een van Untu se versoeke aan die regering as deel van sy en Fedusa se protesoptrede op 26 Julie is dus dat Prasa weer deel gemaak word van Transnet.

Sonja Carstens, woordvoerder vir Untu, meen passasierspoordienste is nêrens in die wêreld winsgewend op hul eie nie. As Prasa weer met die winsgewende Transnet saamgevoeg kan word, kan die vragspoordienste help om die passasiersdienste te kruissubsidieer.

Die DA het al kritiek geopper teen die verskynsel waar twee staatsentiteite mekaar betaal vir die gebruik van infrastruktuur wat albei gebruik. In die metropolitaanse gebiede is Transnet byvoorbeeld afhanklik van Metrorail se infrastruktuur om sy vragtreine deur stedelike gebiede na die hawens of vervoerdepots te neem.

In die landelike gebiede is Prasa se Shosholoza Meyl, die langafstand passasierspoordiens, op sy beurt van Transnet afhanklik om sy treine op Transnet se spoorlyne te laat loop.

Leierloos

Carstens wys ook op die gebrek aan leierstabiliteit by Prasa oor die afgelope vyf jaar. “Sedert Lucky Montana in 2015 as uitvoerende hoof van Prasa afgedank is, was daar al vyf verskillende waarnemende hoofde van Prasa, vier verskillende waarnemende direksies en vyf verskillende ministers van vervoer.”

G’n loondispuut

Untu het beklemtoon die beoogde dag van protes op 26 Julie het niks te doen met enige loondispute met Prasa nie.

Prasa het vir vanjaar reeds ’n loonooreenkoms met sy werknemers gesluit vir ’n verhoging van 7,3%.

Nasionale sleutelpunt

Untu wil ook hê die regering moet Prasa se infrastruktuur as ’n nasionale sleutelpunt verklaar, wat deur die weermag bewaak moet word. Daar is duisende kilometers spoorlyne wat onbewaak is en die polisie kan nie oral wees nie. Untu wil hê die weermag moet help om die infrastruktuur te bewaak sodat die polisie kan fokus op misdaadvoorkoming op die treine self, waar pendelaars en Prasa-werknemers daagliks deur grypdiewe, sakkerollers en gewapende rowers bedreig word.

Meer oor:  Transnet  |  Untu  |  Prasa  |  Maria Ramos  |  Spoorweë  |  Treindienste  |  Treine  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.