SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
Markus Jooste eersdaags dissiplinêr verhoor

Die berig is ná publikasie bygewerk nadat Saica ontken het hy het die volledige PwC-verslag in sy besit soos sy uitvoerende hoof in ’n onderhoud gesê het.

Markus Jooste se dae as geoktrooieerde rekenmeester is getel.

Die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) beplan om “binnekort” Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, dissiplinêr te verhoor. Dit sal beteken dat hy die gesogte CA(SA)* agter sy naam sal verloor.

Freeman Nomvalo Foto: Elvira Wood

“As alles volgens plan verloop, gaan ons dié verhoor binne die volgende ses maande van stapel stuur,” sê Freeman Nomvalo, uitvoerende hoof van Saica Woensdag in ’n onderhoud aan Netwerk24.

“Ons het reeds die volle verslag met die bevindings van die forensiese ondersoek na ongerymdhede in Steinhoff se boeke van PwC ontvang. 

“Ons moet ons klagtes op feite grond en kan dit nie net op mediaberigte of selfs boeke wat oor die saak gepubliseer is, doen nie,” verduidelik Nomvalo.

Saica het Donderdag ná die publikasie van dié berig ontken dat die bedryfsliggaam die volledige verslag in sy besit het. Saica se verskoning is dat Nomvalo onder ’n “wanindruk” was dat Saica wel die volledige verslag het, hoewel hy uitdruklik “ja” geantwoord het in antwoord op die vraag of Saica die volledige verslag het.

Lees ook: Saica ‘het nié PwC-verslag oor Steinhoff’

Nomvalo sê die PwC-verslag is “duisende” bladsye, wat beteken dit was baie tydrowend om saam te stel.

“Ons het wel nou die punt bereik waar ons (dissiplinêre) klagtes kan bring,” sê hy.

Nomvalo sê Saica verstaan die frustrasie van die publiek, beleggers én belanghebbendes omdat daar reeds 18 maande verloop het sedert die bom gebars het oor groot ongerymdhede wat betref dié maatskappy se boeke.

Sy aandeelprys het in Desember 2017 in duie gestort en beleggers het miljarde rande verloor.

“Ongelukkig word ons deur ons Grondwet gekeer om ’n persoon te skors voordat ons nie ’n volledige ondersoek afgehandel en ’n dissiplinêre proses gevolg het nie.

“Só ’n ondersoek kan maande duur. Daarna kan dit nóg ’n paar maande neem voordat al die betrokke partye se regslui gereed is om voor ’n dissiplinêre komitee te verskyn.

“Saica hersien nou dié aspek van sy grondwet om vas te stel of ons dit in die toekoms kan moontlik maak om wel lede onmiddellik te skors hangende ’n ondersoek sou die omvang van die beweerde oortreding dit regverdig,” sê hy.

Mense moet nooit maatskappye en hul hoofde té veel verafgod nie. Hulle bly mense en kan verkeerd optree.

Nomvalo sê in die geval van Steinhoff, waar dit ’n enorme invloed op baie mense se beleggings en pensioene gehad het, sou Saica só ’n lid onmiddellik sou wou skors.

Baie lesse

Hy sê die instituut het die afgelope twee jaar belangrike lesse geleer. Nie net uit die gebeure by Steinhoff nie, maar ook wat byvoorbeeld by die ouditfirma KPMG – en meer onlangs – by Tongaat Hulett – gebeur het.

Die drie grootste lesse was:

  • Saica moet uitwerk hoe hy vinniger teen lede kan optree wanneer hulle sy gedragskode oortree, veral waar dit ’n groot invloed op mense en selfs die ekonomie kan hê;
  • “Mense moet nooit maatskappye en hul hoofde té veel verafgod nie. Hulle bly mense en kan verkeerd optree. Ons moet dus altyd skepties wees,” sê Nomvalo; en
  • Daar moet nooit onderskat word wat die wyer invloed is van die rol wat rekenmeesters in die ekonomie speel nie.

Probleme

Op die vraag oor hoekom die probleme aanvanklik ontstaan het, sê Nomvalo ’n instituut kan al die reëls hê wat jy aan kan dink, maar as ’n persoon iets wil verduister, dan is dit gewoonlik juis moeilik om só iets op te spoor.

markus jooste
Markus Jooste getuig in 2018 voor die parlementêre komitee oor finansies oor die Steinhoff-debakel. Foto: Jaco Marais

“Daar is geweldige druk op maatskappye en uitvoerende hoofde om elke kwartaal te presteer – ongeag wat die stand van die ekonomie is.

“Uitvoerende hoofde se vergoeding word ook aan hierdie prestasie gekoppel,” sê hy.

“Die kwessie is nou wanneer daar grys areas is oor hoe daar oor syfers berig word, kan dit gebeur dat mense besluit om eerder een te kies as ’n ander om te verseker hul maatskappy presteer en hul bonus word nie beïnvloed nie,” sê hy.

Nomvalo sê Saica se gedragskode gee duidelik rigting oor hoe daar oor “grys areas” besluit behoort te word, maar dit kan nie afgedwing word nie.

“ ’n Mens kan dalk vra of daar nie ’n voorwaarde aan uitvoerende hoofde se vergoeding, en veral bonusse, geheg moet word wat swaar strawwe behels sou daar enige ongerymdhede opgespoor word nie,” sê hy.

Nomvalo sê hy glo egter die instituut het die regte reëls en gedragskode en rekenmeesters word reg opgelei.

* Netwerk24 is bewus daarvan dat die Afrikaanse afkorting GR(SA) bestaan, asook die afkorting van SAIGR vir Saica. Omdat rekenmeesters die Engelse afkortings meer algemeen gebruik en bedryfsliggame se webwerwe en kommunikasie feitlik uitsluitlik Engels is, gebruik ons meer gereeld die Engelse afkortings.

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Kpmg  |  Pwc  |  Markus Jooste  |  Saica  |  Ouditbedryf  |  Ouditeurs  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.