Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Binnehandel: Markus Jooste met R162 m. beboet

Markus Jooste is met byna R162 miljoen beboet vir oortredings van regulasies oor binnehandel met betrekking tot Steinhoff-aandele.

Van dié bedrag is hy alleen vir nagenoeg R122 miljoen aanspreeklik; vir die res deel hy aanspreeklikheid met ander mense wat beboet is.

Jooste het nooit ’n enkele aandeel verhandel nie en het nooit finansiële voordeel daaruit getrek nie, het Brandon Topham, divisiehoof van wetstoepassing van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA), Vrydagoggend op ’n nuuskonferensie gesê.

Die boete is egter opgelê vir ’n SMS wat hy op 30 November 2017 gestuur het waarin hy inligting aan vier mense gedeel het wat hulle gewaarsku het dat Steinhoff se aandeelprys in duie kan stort.

Dit was enkele dae voordat Deloitte aangekondig het hy kan nie Steinhoff se 2017-resultate afteken nie weens boekhoukundige onreëlmatighede.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Die SMS het die vier mense gewaarsku om hul aandele dadelik te verkoop en daarna die SMS uit te vee.

Drie van die mense het wel van hul aandele verkoop en hulle is ook beboet.  

Altesaam is nagenoeg R241 miljoen se boetes opgelê. Die waarde van die boetes word bereken op grond van hoeveel verliese die mense kon afweer, wat met tot drie keer vermenigvuldig mag word ingevolge wetgewing. Diegene wat met die FSCA saamgewerk het, het ligter boetes gekry. 

Steinhoff se aandeelprys het in duie gestort nadat hy op Sens aangekondig het sy jaarsyfers gaan nie uitgereik word nie weens die onreëlmatighede. Die maatskappy se markwaarde het binne vier dae begin Desember 2017 met nagenoeg R200 miljard geval; uiteindelik is nagenoeg 99% van die maatskappy se markwaarde uitgewis.

Topham het beklemtoon dat dit siviele boetes is, nie strafregtelike boetes nie. Die FSCA oorweeg dit inderdaad om strafregtelike klagte teen Jooste in te dien.

Volgens Topham ontken Jooste dat hy binnehandel gepleeg het en het hy ook besware teen FSCA-prosedures. 

Jooste het 30 dae vandat die faktuur uitgereik word om die boete te betaal. Hy het wel die reg om daarteen te appelleer. Die faktuur is nog nie Vrydag uitgereik nie en sal na verwagting volgende week uitgereik word.

Die boete wat Jooste opgelê is, kom neer op drie keer die waarde van die verliese wat vermy is weens transaksies wat die ontvangers van die aandele uitgevoer het.

Die sluit ook R1 miljoen in vir die SMS aan Jaap du Toit, selfs al was die Du Toit die een ontvanger wat nié die inligting gebruik het nie.

Jooste sal ook die FSCA se koste vir die ondersoek moet betaal en is aanspreeklik vir rente op die bedrag wat begin oploop as 30 dae verstryk het, tensy hy appelleer.

Wie is die vier mense wat die SMS ontvang het?

Jaap du Toit: Die medestigter en ’n direkteur van PSG. Hy het die SMS ontvang, maar geen aandele verkoop nie. Hy is dus nie beboet nie.

Dr. Gerhardus Burger: ’n Kennis van Markus Jooste. Hy het al die Steinhoff-aandele wat sy twee familietrusts besit het, verkoop nadat hy die SMS ontvang het. Hy is met net meer as R3 miljoen beboet.

Marthinus Swiegelaar: Hy was Jooste se chauffeur. Hy word met R18 328 beboet, wat die volle verlies wat hy gely het, verteenwoordig. Die boete is nie groter gemaak nie, grootliks danksy die samewerking wat hy in die ondersoek gegee het.

Ockie Oosthuizen: Oosthuizen, ’n jare lange vriend van Jooste, is sedertdien oorlede, maar ’n maatskappy wat hy beheer het, Ocsan Investment Enterprises, word met R115 867 122 beboet. Die FSCA sê Oosthuizen het die ondersoekbeamptes doelbewus tydens ondervraging mislei en wou nie saamwerk nie. 

Hoe Jooste se R162 miljoen saamgestel is

Jooste is alleen verantwoordelik vir R122 927 366 uit die boete van R161 568 068.

Die verskil bestaan uit R38 622 374 and R18 328, bedrae waarvoor hy sal moet opdok indien onderskeidelik Ocsan en Swiegelaar nie hul boetes betaal nie.

Omdat Burger se verhandeling nie vir sy eie rekening was nie, maar vir trusts, kan Jooste nie gesamentlik daarvoor verantwoordelik gehou word nie, ingevolge wetgewing.


Meer oor:  Steinhoff  |  Bedrog  |  Jse  |  Meubelhandel  |  Ouditeurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.