Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Markus Jooste ‘selfingenome, sonder berou’
06 September 2018

Hy het net te selfingenome gelyk en dis opvallend hoe min berou hy getoon het in sy ure lange ondervraging Woensdag in die parlement.

Markus Jooste het volgens twee mense geen teken van berou getoon nie. Foto: Jaco Marais

Dit is van die kommentaar oor Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, se verskyning Woensdagoggend in die parlement waarin hy sy hande in onskuld gewas het van die gebeure wat tot die ineenstorting van Steinhoff gelei het.

Iemand wat hom baie goed ken en sy ondervraging op TV gevolg het, sê hy is net te selfingenome.

David Maynier, ’n lid van die staande komitee oor finansies, het opgemerk wat hom getref het, was Jooste se “algehele gebrek aan berou” en ook dat hy bykans weier om sy gedrag te erken of daarvoor om verskoning te vra –“gedrag wat letterlik miljarde rande uitgewis het van die spaargeld van onskuldige mense en spesifiek pensioenarisse”. 

Maynier het ook gevra of Jooste ’n “f*****g psycopath” is, soos op dié video gesien kan word:

Themba Godi, medevoorsitter van die sitting oor Steinhoff en voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), sê Jooste se getuienis was strydig met wat voorheen getuig is. “Ons het nou min of meer drie weergawes van wat gebeur het.”

Ons het nou min of meer drie weergawes van wat gebeur het.
Themba Godi van Skoor

Jooste het sy opwagting gemaak met ’n regspan van vier, waaronder twee advokate, onder andere adv. Francois van Zyl, wat Shrien Dewani suksesvol verteenwoordig het toe hy van die wittebrood-moord op sy bruid aangekla is.

Sy prokureur Callie Albertyn was ook teenwoordig.

Maerder en gryser

Hy was op die oog af maerder en gryser as voordat hy uit die openbare oog verdwyn het met sy skielike bedanking as Steinhoff-hoof in Desember. Sy hare was netjies gesny en hy was in ’n duur pak geklee.

Lees ook: FOTO'S: Gryser, maar is Markus Jooste wyser?

Iemand met kennis oor Steinhoff en met ’n regsagtergrond het ná die tyd gesê hy het verwag Jooste gaan op advies van sy regspan op amper geen vrae reageer nie. Jooste het egter op elke vraag geantwoord, maar drasties verskillende weergawes voorgehou as wat op vorige sittings in die parlement getuig is.

Ben la Grange, Steinhoff se voormalige finansiële hoof, op Woensdag 29 Augustus in die parlement. Foto: Jaco Marais

Die algemene gevoel onder mense met wie Netwerk24 gepraat het, was dat Jooste sy storie mooi voorberei het. Hy het onder eed getuig.

Hy het begin deur van dokumente wat hy voorberei het te lees en te verduidelik hoe die maatskappy en die verskillende filiale se ouditeure gewerk het en wie die ouditeure was. Daarna het hy begin met agtergrond oor wat volgens hom tot die gebeure in Desember gelei het wat veroorsaak het dat die jaarstate nie uitgereik is nie en die aandeelprys so skerp geval het.

Teenstrydighede

Dit is veral Jooste se weergawe van die gebeure op 4, 5 en 6 Desember 2017 wat drasties verskil van Christo Wiese, voormalige voorsitter, en Ben la Grange, voormalige finansiële hoof, se getuienis in die parlement.

Godi het gesê die enigste bevrediging wat hy uit Jooste se getuienis gekry het, is die “besonderhede oor die verloop van gebeure. Maar ek kan nie oordeel of die besonderhede korrek is nie.

“Ek glo dit lê ’n goeie fondament vir ons toekomstige interaksie.

“Hy het baie teenstrydige insette gegee, maar ons kan nie oordeel in die afwesigheid van die ander mense se weergawes om die inligting te versoen nie.”

Skielik sê Markus Jooste dis net Seifert wat aanleiding gegee het tot sy bedanking en die ineenstorting.
James Brent-Styan, skrywer

Hy sê daar sal binne ’n week besluit of word Wiese geroep gaan word om weer te kom getuig. ’n Besluit sal ook geneem toekomstige sittings en ondervragings.

Maynier meen “die parlement moet sy voet op die pedaal hou” en dat daar kwartaalliks sittings moet wees met al die reguleerders en owerhede om hul vordering te monitor.

James-Brent Styan, skrywer van Steinhoff en die Stellenbosse boys, het ook na “vreemde teenstrydighede” in Jooste se getuienis verwys.

’n Stroewe Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff, in Januarie in die parlement. Foto: Nellie Brand-Jonker

“Nie Christo Wiese of Ben la Grange het enigsins aangedui dat Andreas Seifert, ’n Oostenrykse sakeman, die skuld moet dra vir die Steinhoff-ineenstorting nie. Skielik sê Markus Jooste dis net Seifert wat aanleiding gegee het tot sy bedanking en die ineenstorting. As Seifert so ’n groot rol gespeel het, sou een van daardie ander twee daarna verwys het.”

Wiese het dit duidelik gestel dat hy ’n stemboodskap van Jooste gekry het die dag toe Jooste sy bedanking ingedien het. “Vandag sê Markus Jooste hy het daai Maandag, die 4de Desember, lang gesprekke met Wiese gehad.

“Hulle het albei onder eed getuig.”

Hy vind dit ook interessant dat Jooste kriewelrig was oor die vraag hoekom hy net geloop het nadat hy 29 jaar aan die maatskappy gebou het en R3 miljard in die groep gehad het. Hy sê die maatskappy se 130 000 werkers was vir hom so belangrik. “Vir my is dit die groot vraag, daardie som klop nie.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Poco  |  Ben La Grange  |  Andreas Seifert  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Themba Godi  |  Kleinhandaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.