Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Markus Jooste wel 1 van 4 in Duitsland vervolg

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, is wel een van die vier mense wat in Duitsland vir die beweerde gekonkel met die boeke van ’n filiaal in dié land aangekla sal word.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Die bedrog beloop sowat R41 miljard.

’n Betroubare bron het bevestig dat Jooste een van die beskuldigdes is.

Jooste se Duitse prokureur, dr. Bernd Gross, het ook vandeesweek aan die tydskrif Manager Magazin gesê die klag is nie ’n verrassing nie en sy kliënt is vol vertroue dat dit suksesvol teengestaan kan word.

Bloomberg berig Gross het Donderdag die aantygings teen Jooste as “onakkuraat” beskryf.

Sy Suid-Afrikaanse prokureur, Callie Albertyn van DKGV, sê Jooste gaan geen kommentaar lewer nie.

Die staatsaanklaer van Oldenburg, wat in die staat Neder-Sakse in Duitsland is, het Donderdag ’n nuusverklaring uitgereik waarin aangekondig is dat vier individue wat betrokke is by die beweerde misdrywe in verband met Steinhoff se boeke aangekla gaan word.

Die name is egter nie in die verklaring bekend gemaak nie.

Die bron het ook bevestig dat Dirk Schreiber en Siegmar Schmidt die ander twee mense is wat in ’n stadium ook vir die Steinhoff-maatskappy gewerk het.

Die vierde persoon is na bewering George Alan Evans.

Al dié mense se name is in Maart 2019 in opdrag van die Suid-Afrikaanse parlement deur Steinhoff onthul as van die mense wat in die forensiese ondersoek na die groep se boeke geïdentifiseer is as die hoofverdagtes wat by die beweerde ongerymdhede by die groep se boeke betrokke is.

LEES OOK: Steinhoff: Hier is die 8 grootste verdagtes

Die betrokke Steinhoff-filiaal waar die beweerde misdrywe plaasgevind het, is in die stad Westerstede in Neder-Sakse geleë. Dit is in dié stad waar Steinhoff in die 1960’s deur Bruno Steinhoff begin is.

Indien Jooste skuldig bevind word aan die misdryf, kan hy tot drie jaar tronkstraf of ’n boete opgelê word.

Dirk Schreiber, ’n Duitser wat die hoof- finansiële beampte van Steinhoff Europe was. Foto: Linkedin

Die aanklag spruit uit ’n ondersoek wat in 2015 net voor Steinhoff se notering op die Frankfurtse beurs plaasgevind het toe ’n klopjag op die kantoor in Westerstede asook wonings van bestuur uitgevoer is.

Dit is die eerste strafregtelike klag wat teen Jooste aanhangig gemaak is.

In Suid-Afrika sloer ’n ondersoek deur die Valke reeds sedert 2017. Dit word toegeskryf aan die kompleksiteit van die beweerde bedrog wat gepleeg is.

Steinhoff het reeds in 2019 ’n siviele eis teen Jooste gebring om sy salaris en bonus oor talle jare terug te eis.

Hy is ook as party nygevoeg by verskeie siviele eise wat teen Steinhoff gebring is.

Die staatsaanklaer van Oldenburg sê die persone was betrokke by beweerde vals transaksies wat 1,5 miljard tot die filiaal se balansstaat gevoeg het.

Dit hou ook verband met die waarde van eiendom wat in transaksies met 820 miljoen oordryf is.

Die beweerde misdrywe het van Julie 2011 tot Januarie 2015 plaasgevind.

Die vierde beskuldigdes het die transaksies na bewering help bewerkstellig.

Siegmar, STeinhoff
Siegmar Schmidt in 'n foto wat in 2009 in Steinhoff se jaarverslag verskyn het toe hy 50 jaar oud was.

Steinhoff het voorheen in ’n bevinding oor die opsomming van die forensiese ondersoek ook na ingewikkelde, fiktiewe en onreëlmatige transaksies verwys wat oor sowat nege jaar R110 miljard se inkomste vir die groep bygedra het. Die transaksies het plaasgevind met partye wat as onafhanklik van die groep en sy bestuur voorgedoen is, maar wat blyk verwant te wees aan hulle of beheer te word deur die klein groepie mense wat genoem is.

Vrae oor die name is na die streekhof van Oldenburg verwys, wat gesê het die name van mense wat in strafregtelike verrigtinge beskuldig word, word nie in die algemeen bekend gemaak nie.

Die proses werk soos volg:

  • Wanneer ’n klagstaat van die staatsaanklaer van Oldenburg ontvang word, word dit aan die beskuldigdes gestuur om hulle die geleentheid te gee om kommentaar te lewer.
  • Nadat die sperdatums vir kommentaar verstryk het, wat verleng kan word, besluit die streekhof of die aanklag van die aanklaer toegestaan word en dat die hoofgeding begin word.
  • In beginsel word die beskuldiges se name eers op die dag van die hoofverhoor bekend gemaak.

Steinhoff se aandeelprys het in Desember 2017 oor die afgrond getuimel nadat die maatskappy aangekondig het dat sy geouditeerde jaarstate nie uitgereik kan word nie weens boekhou-ongerymdhede wat verder ondersoek moet word.

Steinhoff Investment Holdings verwys in sy jaarverslag vir die boekjaar tot einde September 2016, wat verlede jaar uitgereik is, ook na Evans en Schmidt, asook na Jean-Noël Pasquier.

In die verslag word verwys na die bevindinge van die forensiese ondersoek en transaksies met vier hoofgroepe van korporatiewe entiteite wat geïdentifiseer is, naamlik Campion (of Fulcrum-groep), Talgarth Group, TG (of TG Management Group) en Fihag Group, en sekere individue, insluitend Schmidt, Evans en Pasquier.

Hulle was na bewering onafhanklike partye van die groep, maar was in wese nou verwant of beheer deur die groep of sy werknemers en sekere senior bestuurders van Steinhoff.

Die name van dié vier het ook in Desember 2017 in ’n verslag van die omstrede kortverkopers Viceroy opgeduik.

In die verslag is onder meer beweer dat Genesis Investment Management, beheer deur Schmidt, ’n voormalige finansiële direkteur en uitvoerende hoof van Steinhoff Europe, kika-Leiner gekoop het in ’n transaksie wat deur aandele van die groep gefinansier is. Ses maande later het Steinhoff die eiendomme van kika-Leiner in Oostenryk vir meer gekoop as waarmee hy die transaksie aanvanklik gefinansier het.

Evans is in die verslag as die uitvoerende hoof van Jooste se beleggingsvoertuig Kluh Investments beskryf.

Schreiber is deur LinkedIn probeer kontak, maar hy het nie gereageer nie. Schmidt het nie op vrae gereageer wat op WhatsApp aangestuur is nie.

Netwerk24 kan Evans nie opspoor nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Sakeredding  |  Meubelhandel  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.