Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Maserati, plase: Só vlieg geld van Transnet-baas

Herbert Msagala, Transnet se voormalige hoof van kapitaalprojekte, het ’n kontantbetaling van R2 miljoen in R200-note in sy bankrekening as die opbrengs van sy vervoeronderneming, beesboerdery en sy verhuring van studentehuisvesting verduidelik.

Msagala
'n Foto van Herbert Msagala wat in die 2015-jaarverslag van Transnet verskyn het toe hy groephoof van kapitaalprojekte was.

Die spesiale tribunaal het Dinsdag verdere besonderhede aangehoor oor die ongerymde betalings wat Msagala oor ’n tydperk van sowat vyf jaar van die firma IGS ontvang het.

Vervandhan Govender, hoof- forensiese ondersoeker van die spesiale ondersoekeenheid (SOE), het Dinsdag getuig dat R5 miljoen kontant in een stadium by ’n trustrekening van Msagala inbetaal is op dieselfde dag as wat die rekening geopen is, en op dieselfde dag is nóg ’n kontantdeposito van R1 miljoen gemaak.

Die SOE het die groot kontantbetalings bevraagteken in sy ondersoek omdat dit nie sin gemaak het nie, want dit het reusagtige diensgelde tot gevolg gehad.

Msagala se verduideliking aan die SOE se ondersoekers was dat dit geld van vorige beleggings en van sy huurinkomste is.

Volgens Msagala se verduideliking het hy verskeie kamers en woonstelle aan studente verhuur.

Daar was wel betalings van R1 500 of R2 000 op ’n slag, maar daar was nie enige bewyse dat hy eiendom teen R500 000 per maand verhuur nie, het Govender getuig.

Per geleentheid is vyf betalings van R999 999,99 op een dag gedoen, skynbaar om die bankvereistes vir die rapportering van bedrae van R1 miljoen of meer te omseil.

Transnet het R160 miljoen aan IGS vir verskeie projekte betaal. In ’n Nexus-ondersoek is bevind dat dié bedrae onreëlmatig is.

’n Voormalige topbestuurder van Transnet word daarvan verdink dat hy luukse motors soos dié Maserati gekoop het met die geld wat hy glo onregmatig van ’n Transnet-diensverskaffer ontvang het.

Sipho Sithole, wat as die enigste direkteur van IGS gelys is, het in ’n stadium kontant van R300 000 aan Msagala betaal, het Govender getuig.

Volgens getuienis het Msagala Sithole beskryf as ’n vriend wat hy deur sy broer leer ken het. Hy beweer die betaling van Sithole was ’n lening.

Msagala het egter nooit sy verhouding met Sithole as ’n belangebotsing verklaar nie, al was Sithole se maatskappy ’n diensverskaffer van Transnet.

Dit blyk dat Msagala ’n paar eiendomme, waaronder plase, gekoop het met die geld wat hy ontvang het. Een is ’n huis van R1,46 miljoen, ’n erf van R7 miljoen, en plase van onderskeidelik R4,5 miljoen en R1,197 miljoen.

Msagala het ook eiendomme in die Vrystaat in sy dogter se naam gekoop. Hy het meer as 20 voertuie by Burchmores Auctions in Sandton gekoop, waarvan nege in sy eie naam. Een daarvan was ’n Maserati-sportmotor in Julie 2015.

Volgens Govender het Msagala nie sy samewerking gegee in hul ondersoek nie en was hy skraps met inligting.

Jabulani Chauke, ’n BBP-veiligheidsbeampte wat ook een van Msagala se lyfwagte was, is ook by die bedrog betrek, want sy naam was agterop van die tjeks wat inbetaal is. Chauke is ná ’n tugverhoor in April geskors.

Die SOE het sy saak na die Valke verwys nadat bewyse gevind is wat verdere strafregtelike ondersoeke verg, het Govender gesê.

Die verhoor voor die spesiale tribunaal duur tot 21 Mei.

Meer oor:  Transnet  |  Korrupsie  |  Spoorweë  |  Staatskaping  |  Bedrog  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.