Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Matjila erken hy het ANC-man help geld kry
Dr. Dan MatjilaFoto: Elvira Wood

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), erken hy het in 2017 dié rol gebruik om ’n ANC-politikus te help om geld vir dié party te kry.

Matjila het geweier om die identiteit van die politikus bekend te maak.

Woensdag was die derde dag van sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK.

Matjila het erken dat hy ’n WhatsApp-boodskap gekry het van dié politikus, waarin dié finansiële steun vir die ANC van die OBK versoek is.

“Ons ontvang van tyd tot tyd dié tipe versoeke van politici,” het Matjila getuig.

“Ek het verduidelik die OBK finansier nie politieke partye nie. Ek is tóé gevra of ek die versoek kan aanstuur na maatskappye wat die OBK wel finansieel ondersteun.”

Matjila het erken hy het dit gedoen.

Hy het glo spesifiek dié versoek gestuur aan Lawrence Mulaudzi, wie se Kilimanjaro Capital (KiliCap), saam met sy vennoot Sakhumnotho, ’n lening van R1,7 miljard van die OBK gekry het.

Gill Marcus, een van die kommissarisse, wou by Matjila weet hoe hy dit kon regverdig om ’n versoek van dié aard aan te stuur sonder om die indruk van politieke inmenging of assosiasie te skep.

“Jy moes dit tog sekerlik gesê het? Politieke partye moet tog maatskappye regstreeks nader vir finansiering en nie via die OBK nie,” het sy gevra.

“As jy as uitvoerende hoof só ’n boodskap aanstuur, impliseer dit dat jy die invloed van die OBK gebruik,” het sy gesê.

Volgens Matjila het hy nie toe gedink dat dit is hoe dit sou oorkom nie.

Hy het erken dat hy geen regsadvies ingewin het oor óf hy só ’n boodskap aan ander maatskappye kan stuur nie.

Hy het ook nie die direksie van die OBK gevra of dit gepas sou wees nie.

Marcus het gevra dat Matjila ’n lys verskaf oor vir wie presies hy die boodskap gestuur het.

Sy het ook gevra of dit moontlik sal wees om vas te stel óf die maatskappye toe wél geld aan die ANC gegee het, en indien wel, hoeveel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.