Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Matjila: Holomisa praat bog oor VBS
Dr. Dan Matjila Foto: Elvira Wood

VBS Mutual Bank het nié R2,4 miljoen aan dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) geleen nié.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, praat bog as hy sê dit is die geval.

Dit was Dinsdagoggend Matjila se regspan se reaksie op dié bewering wat Holomisa Maandag in ’n ope brief aan die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK gemaak het.

“Dr. Matjila, deur sy regspan, ontken dat hy ooit só ’n lening ontvang het,” was adv. Alex Roelofse, Matjila se advokaat se reaksie Dinsdagoggend met die aanvang van die openbare sittings van die kommissie in Pretoria.

Holomisa beweer dat Matjila nooit die lening verklaar het nie. Hy vra ook of die beweerde lening ooit terugbetaal is.

Holomisa sê in sy brief hy het van dié verwikkeling bewus geword toe ’n fluitjieblaser ’n forensiese verslag, wat op 15 April gepubliseer is en deur Nexus Forensic Services vir die direksie van die OBK gedoen is, aan hom gestuur het.

“Dit is nie die eerste keer dat mnr. Holomisa bewerings wat nie bewys kan word teen my kliënt maak nie,” het Roelofse gesê.

Roelofse sê Matjila se regspan het nog nie die Nexus-verslag gesien nie.

“Ons sal graag die feite wil sien wat hierdie bewering ondersteun,” sê hy.

“Dit is egter vreemd dat ’n ondersoek wat miljoene rande gekos het, nie iets só voor die hand liggend as ’n lening aan Matjila kon opspoor nie. Dit is haas onmoontlik,” het hy verder gesê.

Roelofse het na adv. Terry Motau, SC, se verslag, The Great Bank Heist, verwys.

Motau verwys nêrens in sy verslag na enige lening aan Matjila nie.

“Dr. Matjila het hom sedertdien aan ’n leefstyloudit onderwerp wat deur PwC gedoen word.

“Die bevindinge van dié oudit sal volgende week aan die kommissie voorgelê word,” het hy gesê.

Adv. Jannie Lubbe, ondersoekleier, het ook bevestig dat PwC die voorlegging sal maak.

Lubbe het ook bevestig dat die ondersoekspan van die Nexus-verslag geweet het. Hulle het PwC daarná gevra of hy enige bewys van so ’n lening gekry het.

“Daar is geen bewyse dat so ’n lening aan Matjila toegestaan is nie,” het Lubbe gesê.

Lubbe sê die ondersoekspan sal egter sy eie onafhanklike ondersoek oor dié bewering afhandel.

Regter Lex Mpati, kommissaris, het net soos Lubbe dit betreur dat Holomisa sy bewerings aan die media gestuur het, en nie eers aan die kommissie sodat dit ondersoek kon word nie.

Die brief is Maandag op die UDM se webwerf gepubliseer.

Meer oor:  Openbare Beleggingskorporasie  |  Udm  |  Obk  |  Vbs Mutual Bank  |  Dan Matjila  |  Bantu Holomisa  |  Lening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.