Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Matjila: OBK-belegging in olie ‘was ’n ramp’
Dr. Dan MatjilaFoto: Elvira Wood

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het ’n swak besluit geneem toe hy $270 miljoen in 2014 in Camac Energy belê het.

Dit is dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, se getuienis Maandag voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die korporasie.

Camac het later sy naam na Erin Energy verander.

Dié maatskappy was bedrywig in Nigerië en was op die JSE genoteer.

Boonop het die OBK glo ’n waarborg van $100 miljoen aan Erin toegeken toe hy reeds tegnies insolvent was.

Erin het sedertdien bankrot gespeel.

Matjila het Maandagoggend behoorlik kleigetrap toe hy antwoorde oor dié belegging moes antwoord.

Matjila het erken dat nie een vat olie ooit na Suid-Afrika ingevoer is as gevolg van dié transaksie nie, maar dadelik gesê dit was nooit die plan om in Erin te belê net om olie goedkoper na Suid-Afrika te kon invoer nie.

“Die plan was om in ’n olie-bate te belê. Dit was nie spesifiek om olie na die land in te voer nie.”

Matjila se getuienis Maandagoggend oor Erin vorm nié deel van sy verklaring wat hy vir die kommissie voorberei het nie.

Adv. Jannie Lubbe, ondersoekleier, sê die omvang van die belegging het dit regverdig dat Matjila moes verduidelik wat gebeur het.

Matjila was tydens die belegging die beleggingshoof van die kommissie.

Matjila is ook onkant gevang toe Lubbe hom gevra het of die OBK voordat hy by die transaksie betrokke geraak het, bewus was daarvan dat Kase Lawal, die Nigeriese sakeman wat Erin gestig het, ’n vriend van Jacob Zuma was.

“Ons het dit net later in die media gesien,” het hy erken.

Lubbe het voorheen aan die kommissarisse gesê dat hoewel hulle die OBK verskeie kere om dokumente gevra het oor dié transaksie, kon daar glo niks gevind word nie.

Hy het Maandag herhaal dat die ondersoek na die transaksie voortduur.

Matjila sê hy het nie geweet Erin was reeds insolvent toe die OBK die waarborg goedgekeur het nie.

Matjila se verweer oor hoekom hy nie kennis dra van baie besonderhede oor die transaksie nie, is omdat hy as individu nie vir “elke liewe” detail verantwoordelik gehou kan word nie.

Hy het die kommissie aanbeveel om eerder individuele betrokkenes daaroor te ondervra.

“Ek gaan ongelukkig nie van die besonderhede kan bespreek wat betref hierdie kontrak nie,” het hy aan die kommissie gesê.

Regter Lex Mpati, kommissaris, het hom daarop gewys dat van die vrae juis is oor die ooreenkoms wat Matjila geteken het.

Adv. Sechaba Mohapi, wat Lubbe bystaan, het vir Mpati gesê ’n mens sou dink dat wanneer ’n persoon ’n dokument teken behoort hy te weet wat daarin staan al dan nie.

Mpati se kommentaar was “of hy dit gedoen het of nie, is die vraag.”

Matjila se verweer was dat dit nie prakties moontlik is om vertroud te raak met die inhoud van al die dokumente wat hooggeplaastes, selfs die president van die land, moet teken nie.

“Kan jy dink hoe lank dit gaan duur?” het hy gevra.

Na ’n lang ondervraging oor die transaksie het hy erken dat die OBK sowat $330 miljoen in die transaksie verloor het.

“Ons moet onthou daar is altyd beleggings wat onsuksesvol is. Ons moet egter leer om nie die foute te herhaal nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.