Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Matjila: ‘Ons het nie geweet van probleme by VBS’
Dr. Dan Matjila Foto: Reuters

“Waar was die reguleerders toe African Bank en VBS Mutual Bank in duie gestort het?”

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), hou vol die korporasie het geen idee gehad oor wat by die bank aangegaan het voor dit in duie gestort het nie.

VBS is in November 2018 gelikwideer nadat grootskaalse bedrog by dié bank op die lappe gekom het.

Die OBK was ’n aandeelhouer in die bank met twee van sy direkteure wat op die direksie van VBS gedien het ten tye van die ineenstorting.

Matjila het Woensdag in sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK enige kennis of betrokkenheid by ongerymdhede wat betref VBS heftig ontken.

Paul Magula en Ernest Nesane was die twee direkteure wat namens die OBK op VBS se direksie gedien het.

Nesane het erken hy het omkoopgeld van R16,6 miljoen ontvang terwyl Magula weer erken het hy het R14,8 miljoen in omkoopgeld ontvang.

Die OBK het reeds albei geskors.

Matjila het nie net ontken dat hy self enige verantwoordelikheid moet aanvaar vir hul aanstelling by VBS nie, maar het nie geskroom om Magula en Nesane te blameer vir hul rol in die bank se ineenstorting nie.

Hy beskuldig hulle in sy verklaring daarvan dat hulle nooit die OBK ingelig het toe Vele Investments ’n beherende belang in VBS bekom het nie.

Matjila het ook erken hy weet nie wie Vele is nie.

“Die OBK is in dieselfde posisie as alle ander belanghebbendes wat geld verloor het,” het hy getuig.

“Ons het nie geweet wat aangaan nie,” het hy herhaaldelik gesê.

Hy het ook herhaaldelik gevra hoekom die Voorsorgowerheid nie die probleme by VBS betyds opgetel het nie.

Omkoopgeld

Dit is egter nie net Magula en Nesane wat omkoopgeld aanvaar het wat betref VBS nie.

Phophi Mukhodobwane, voormalige hoof van VBS se tesourie, het voorheen in ’n beëdigde verklaring gesê hy moes glo ’n groot tas gaan koop om R5 miljoen kontant in te sit wat glo “vir ’n senior uitvoerende hoof van die OBK” bestem was. Dit was na bewering om die persoon om te koop om geld in VBS te belê.

Die bewering is later gemaak dat dié geld spesifiek vir Matjila was.

Matjila het na adv. Terry Motau SC se verslag The Great Bank Heist verwys wat stel dat Motau “geen beslissende bevinding kan maak nie, maar dat die kwessie ’n ondersoek regverdig”.

“Ek wil dit hier en nou op rekord stel dat ek enige ondersoek oor hierdie hartseer saga verwelkom. Ek beskou dit [die bewering] as hoorsê wat gegrond is op wat twee mense gesê het wat swaar geïmpliseer word in die ondergang van VBS,” het hy getuig.

“Om persoonlik by die VBS-debakel ingetrek te word, moet die laagste van lae bewerings oor my leierskap van die OBK wees.

“Daarbenewens, as iemand wat integriteit bo alle ander waardes plaas, is die blote voorstel dat ek omkoopgeld sal aanvaar, vir my afgryslik en het dit my vrou en kinders baie ontstel,” het hy verder getuig.

Matjila beskuldig Magula en Nesane ook daarvan dat hulle valse bewerings oor hom maak, nie net oor VBS nie maar ook oor sy betrokkenheid by die belegging in Lancaster 101 en Ayo Technology Solutions bloot om die aandag van hulle af te lei.

Matjila word daarvan beskuldig dat hy prosesse by die OBK gesystap het toe die korporasie R4,3 miljard in Ayo belê het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.