
Dr. Dan MatjilaFoto: Reuters
Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), hou voet by stuk dat hy niks verkeerd gedoen het toe hy sakelui gevra het om die ANC finansieel te ondersteun nie.
“Ek wou net help. Mense (aan wie hy die versoeke gestuur het) kon self besluit of hulle daarop wou reageer. Ek het geen druk op hulle geplaas nie,” het hy herhaaldelik gesê.
Matjila het Dinsdag wéér sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die korporasie hervat.
Al drie die kommissarisse – regter Lex Mpati, Gill Marcus en Emmanuel Lediga – asook adv. Jannie Lubbe het Matjila herhaaldelik gevra of hy nie dink het dat dit ongehoord is dat ’n persoon in sy posisie sakelui vra om ’n politieke party te ondersteun nie.
Matjila het reeds in sy getuienis op 10 Julie erken dat hy ’n WhatsApp-boodskap van ’n hooggeplaaste ANC-politikus gekry het met ’n versoek om finansiële steun vir die party.
Luidens Dinsdag se ondervraging blyk dit dat dr. Zweli Mkhize, in daardie stadium die ANC se tesourier-generaal, Matjila in 2016 gevra het om sakelui met wie hy kontak het te vra om die ANC te steun.
Een persoon wat Matjila wel gevra het, was Sipho Mseleku, voorsitter van Sakhumnotho, wat toe R1 miljoen aan die ANC geskenk het.
Sakhumnotho was toe reeds by verskeie transaksies betrokke vir wie die OBK geld geleen het.
Een van die grootstes hiervan was ’n lening van R1,8 miljard om saam met Kilimanjaro Capital in 2015 ’n beherende belang in Tosaco te bekom.
Tosaco is die swartbemagtigingsvennoot van die petrochemiese reus Total Suid-Afrika.
Matjila kon steeds niks verkeerd met dié versoeke sien nie, selfs nadat Lubbe aan hom verduidelik het dat vrae gevra word oor wat sy motiewe was om sakelui te vra om die ANC te steun reg nadat reuse-transaksies met hulle beklink is.
Matjila het oorspronklik ook gesê hy het net die ANC so gehelp.
Hy het egter “skielik” onthou dat hy ook die vakbond Cosatu gehelp het nadat Lubbe hom op ’n e-pos gewys het waarin hy ’n soortgelyke versoek namens die vakbond aan sakelui gestuur het.
Op die vraag of hy weer soortgelyke versoeke sou stuur, het Matjila getuig dat hy dit dalk anders sou doen, maar hy sou nie huiwer om dit te doen nie.
“Ek sal nie huiwer om ’n persoon se versoek aan te stuur nie.”
Die Nenes
Matjila het verder getuig dat hy ook glad nie dink dat dit ongehoord was om op Nhanhla Nene, voormalige minister van finansies, se versoek te reageer om sy seun Siyabonga onder sy vlerk te neem en te mentor nie.
“Ek het my kennis met hom gedeel. Dit (die deel van kennis) is iets waarvoor ek ’n passie het,” het hy getuig.
Matjila se verhouding met Nene vorm deel van die OBK se belegging in S&S Refineries in Mosambiek.
Nene jr. se maatskappy het wel ’n transaksiebetaling verdien, maar het nooit geld by die OBK geleen om self in die raffinadery te belê nie.
LEES OOK: OBK oor palmolie: Dit wás goeie belegging
S&S Refineries is ’n fabriek in Nampula, Mosambiek, wat palmolie verwerk. Dit word dan later in onder meer seep gebruik.
Die OBK het altesaam $63 miljoen namens die GEPF in die aanleg belê. Die randwaarde van die transaksie was nagenoeg R1 miljard.
Matjila het net soos wat Roy Rajdhar, uitvoerende hoof vir impakbeleggings by die OBK in Maart voor die kommissie getuig het, aangedring dat die belegging in S&S Refineries ’n goeie belegging was.