Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Matjila sê glo: ‘Die OBK is mýne, ek besit dit’
Vuyokazi Menye, voormalige hoof van inligtingstegnologie van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), getuig voor die kommissie van ondersoek na gebeure by dié batebestuurder van die staat. Skuins agter haar sit Simphiwe Mayisela, voormalige hoof van IT-sekerheid van die OBK.

“Dit is mý organisasie, ek besit die OBK,” het dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie, glo in ’n woordewisseling kwytgeraak.

Vuyokazi Menye, voormalige hoof van inligtingstegnologie van die OBK, het Woensdag in Pretoria voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK getuig dat Matjila dié stelling gemaak het toe sy geweier het om ’n gekonsolideerde lys van al die stelselwagwoorde van die OBK se rekenaarnetwerk aan hom te stuur.

“Hy het herhaal dat die OBK syne is en dat hy sal doen wat hy wil,” het Menye getuig en begin huil.

Menye het langer as twee uur getuig, hoofsaaklik oor die identiteit van “James Nogu”, ’n skuilnaam van die persoon wat per e-pos bewerings van wangedrag by die OBK gemaak het.

Haar getuienis het ooreengestem met dié van Simphiwe Mayisela, voormalige hoof van IT-sekerheid van die OBK, wat Dinsdag getuig het. Hy het aan Menye gerapporteer.

Lees ook: LEES: OBK blaas R1,5 m. op 'heksejag'

Menye het getuig hoewel sy geweet het dat dit ’n enorme risiko is om al die wagwoorde in ’n enkele dokument saam te vat, het sy ná dié woordewisseling haar bestuurders opdrag gegee om dit wel vir Matjila saam te stel.

Matjila het haar egter kort daarna ingeroep en sonder enige rede of waarskuwing geskors.

Menye is in Junie 2018 deur die OBK gevra om sy diens te verlaat en het ’n skeidingspakket van R7,25 miljoen gekry.

Menye wil heraangestel word en sal onmiddellik die R7,25 miljoen voor belasting terugbetaal indien dit gebeur. “Hulle het my vernietig. Hulle het my gedwing om op 40 af te tree. Daar is nie ’n enkele maatskappy wat my wil aanstel nie oor wat gebeur het,” het sy in trane getuig.

Sy het onder meer ook getuig:

  • Wie ook al James Nogu is, hy ken Matjila baie goed. Sy het in haar getuienis Nogu – wat Matjila in ’n e-pos van korrupsie beskuldig het – beskryf as “iemand wat koffie uit dieselfde koppie drink en van dieselfde bord eet as dr. Dan”.
  • Sy stem glad nie saam met Matjila se siening dat Nogu net die inligting in sy e-pos, getiteld “PIC CEO funds girlfriend”, kon bekom deur die OBK se rekenaarstelsel te kraak nie. “Ons stoor nie inligting soos wie is wie se vriendin en wat haar geldsake is op ons stelsel nie,” het sy getuig. “Jy kan nie dié tipe inligting kry deur die stelsel te kraak nie. Jy moet die persoon self goed ken.”
  • Sy was geskok om uit te vind watter stappe Matjila gedoen het om uit te vind wie Nogu is. Hy het onder meer die maatskappy Business Connexion (BCX) sonder haar wete aangestel om die OBK se netwerk te probeer kraak en ook om op haar en ander werknemers te spioeneer.
  • Matjila het haar nooit geantwoord op die vraag of die OBK ’n geheimhoudingsooreenkoms met BCX gesluit het nie. “Jy stel die maatskappy bloot aan ’n eksterne entiteit in dié proses,” het sy getuig. Matjila het persoonlik betrokke geraak by die ondersoek en het oor haar kop gegaan en opdragte gegee oor wat konsultante se regte op die netwerk mag wees om op werknemers te kan spioeneer.
  • Matjila het die OBK aan groot risiko’s blootgestel deur buitestanders toegang tot sy rekenaarstelsel te gee.

  • Die mate waartoe Matjila by die ondersoek betrokke geraak het, was kommerwekkend, juis omdat dit daaroor gegaan het dat hy van korrupsie aangekla word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.