Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mboweni ‘maak rook oor SAL’

’n Laataand-twiet van Tito Mboweni, minister van finansies, kan die einde beteken van planne om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se reddingsplan dié week nog in werking te stel en die sakeredding te beëindig.

Tito Mboweni, minister van finansies.

Die plan is afhanklik van regeringsfinansiering van meer as R10 miljard, waarvoor daar nie in Mboweni se begroting voorsiening gemaak is nie. Boonop het die regering die afgelope week uit meer as een mond daaroor gepraat, wat verdere verwarring gesaai het.

Die kwessie sal na verwagting teen Woensdag op die spits gedryf word deur ’n hofaansoek van die DA én ’n verklaring van die sakeredders oor of daar aan die voorwaardes vir die plan voldoen is. Dit sluit finansiering in.

Dinsdag het 86% van die SAL se krediteure ten gunste van die plan gestem.

Woensdag moes die regering ’n brief verskaf van die departement van openbare ondernemings, met instemming van die nasionale tesourie, dat die finansiering bevestig word.

Mboweni het in sy begroting in Februarie reeds voorsiening gemaak vir meer as R16 miljard om die SAL se gewaarborgde skuld af te betaal. Dit gaan hier dus eintlik oor die bykomende R10,1 miljard vir skeidingspakkette, die betaal van vliegtuighuur, aanspreeklikheid vir bespreekte vliegkaartjies, ’n paar sent vir elke gewone skuldeiser en saadkapitaal vir die “nuwe” SAL.

Volgens die sakeredders se woordvoerder, Louise Brugman, was die plan om die personeel wat instem tot skeidingspakkette se handtekeninge teen Woensdag te hê. Dit sal meebring dat die plan “substantief” in werking gestel is en die onderneming kan aan die bestuur teruggegee word.

Die plan is egter gekoppel aan ’n voorwaarde dat die regering per brief sy “steun en verbintenis gee om die nodige geld te verskaf” om die plan te kan uitvoer.

Die brief het wel teen die spertyd op 15 Julie gekom, met sowel Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, as Mboweni se handtekeninge onderaan.

’n Klein verskil in die bewoording kan egter ’n groot verskil in betekenis hê. Dit verbind die regering daartoe om “geld te mobiliseer vir die behoeftes op kort, medium en langtermyn om ’n lewensvatbare en volhoubare nasionale lugdiens daar te stel”.

Daar is algemeen aanvaar dat die regering ingestem het om die geld te gee. Die Vryemarkstigting het in ’n verklaring gesê Mboweni, wat in die verlede geweier het om nog geld vir die SAL te verskaf, het eerste weggekyk in die staarkompetisie met Gordhan.

Die DA het die aanname gemaak dat Mboweni die geld beskikbaar gaan stel en ’n noodmeganisme in die wet daarvoor gaan gebruik. Die party wil dit in die hof keer en hoop om sy saak Dinsdag reeds voor ’n regter te kan stel.

Aan die ander kant sê Derek Mans, die vakbond Solidariteit se lugdiensverteenwoordiger die regering het Suid-Afrika, die werkers van die SAL en sy krediteure mislei. “Die brief voldoen nie aan die voorwaarde in die reddingsplan nie en Solidariteit konsulteer om te sien of hy verdere stappe daaroor gaan doen.”

Die sakeredders het aangedui hulle sal eers Woensdag sê of daar aan die finansierings- en ander voorwaardes voldoen is.

'n A340-600 passasiersvliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Foto: Education Images/Universal Images

Theo Venter, politieke en beleidspesialis aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, meen die bontpratery is ’n doelbewuste poging van die regering om die prentjie so te vertroebel dat niemand weet wat aangaan nie.

Daar is nie meer tyd vir rookskerms nie, sê hy.

Die tesourie het aanvanklik geswyg oor wat die brief werklik beteken, maar Vrydagaand kon Mboweni dit klaarblyklik nie meer hou nie. Hy het Geordin Hill-Lewis, DA-LP en -woordvoerder oor finansies, op Twitter oor die hangende hofsaak getakel.

“Maat, dié reddingsboei-ding waarvan jy praat, bestaan nie. Dis net in jou kop. Waar is die bewys vir die bewering (dat hy geld aan die SAL gaan toewys deur die gebruik van noodprosesse)? Ek weet niks daarvan nie,” het Mboweni getwiet.

Hy het Hill-Lewis verder gemaan om die hof se tyd nie met nietighede te mors nie.

Mboweni het nie gereageer toe Hill-Lewis hom vra of hy ook vir Gordhan laat weet het dis net ’n hallusinasie nie.

Gordhan, wat vasberade is om die SAL te red, en sy departement het al verskeie verwysings gemaak na moontlike beleggings in die SAL deur groepe wat ’n belang daarin wil koop, maar dít is met ongeloof in lugvaartkringe ontvang.

Venter meen Gordhan het verkeerdelik ’n dooie perd opgesaal, want die behoeftes in die post-Covid-19-ekonomie is eenvoudig te groot om belastinggeld aan die SAL af te staan. Hy sê die sand het uitgeloop en Gordhan kan in die komende week ontmasker word as dit blyk daar is inderdaad geen bykomende geld vir die SAL beskikbaar nie.

Hy meen dít kan die regering se geloofwaardigheid erg skaad en Gordhan se politieke statuur ’n knou gee.

Aan die ander kant meen prof. Bernard Bekink van die Universiteit van Pretoria se departement publiekreg die regering kan nie so maklik loskom van die onderneming waartoe hy hom in die brief verbind het nie.

Hy sê die opskrif van die brief verwys na “steun en verbintenis tot finansiering soos in die sakereddingsplan uiteengesit”. Dít en die hele konteks dui op ’n bedoeling om geld te verskaf wat uit die regering se eie bronne gemobiliseer moet word. Daar word verdere gewig aan die brief verleen deur die feit dat albei ministers dit onderteken het.

As die eerste deel van die geld nie teen Woensdag beskikbaar is nie, is die voorwaarde nie nagekom nie en moet die sakeredders die krediteure teen Vrydag weer bymekaarroep, sê hy.

Bekink meen ook die gebruik van die noodprosedure in die wet om die geld te bekom sou onwettig wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.