Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Media24 ‘buigsaam genoeg vir Covid-19-houe’

Ondanks ’n erge impak wat die Covid-19-pandemie op Media24 se reeds kwesbare drukmedia kan hê, is die groep vol vertroue dat hy genoeg finansiële buigsaamheid het om die pandemie se slae in sy lopende boekjaar te kan vat.

Media24
Media24 se hoofkantoor in Kaapstad.

Hoewel sy pasafgelope boekjaar nog nie deur die pandemie geraak is nie, verwag Media24 skerp dalings in sirkulasie en advertensie-inkomste.

Die groep het egter reeds ingrypings gemaak om verliese te beperk namate hy toenemend sy digitale sakemodel ontwikkel, het die maatskappy Maandag gesê met die bekendmaking van sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart.

Die groep het in die boekjaar sy omset met 2% tot R4,8 miljard verhoog, en sy handelsverlies het met 54% tot R152 miljoen gekrimp danksy groei in e-handel, stewige skoolhandboekbestellings en streng kostebestuur.

Media24 is verdeel in ’n volwasse portefeulje van koerante, tydskrifte, uitgewers en verspreiding, en ’n groeiportefeulje bestaande uit sy digitale media, e-handel, aanlyn dienste en geklassifiseerde advertensies vir beroepsgeleenthede.

Die volwasse portefeulje het internasionale tendense gevolg en die omset is 7% laer tot R312 miljoen, met die handelswins wat met 19% tot R262 miljoen gekrimp het. Dit is wel beter as die verwagtinge, en die dalende advertensie- en sirkulasiesyfers is deels uitgekanselleer deur goeie handboekbestellings en volgehoue kostebestuur.

Drukmedia

Te midde van ’n strukturele daling in sirkulasie en advertensie-inkomste in die hele drukmediabedryf, het die groep se drukmedia-afdeling steeds sterk presteer en is Media24 gemeet aan werklike verkope die uitgewer van vier van die top-10-koeranttitels in die land, en van ses van die top-10-tydskrifte.

Digitaal

Die groep se afdeling vir digitale media, 24.com, het hom verder gevestig as die voorste nuusbestemming vir Suid-Afrikaners.

Die Reuters-instituut het die Engelse nuuswebblad News24 as die mees vertroude digitale nuushandelsnaam in Suid-Afrika aangewys, en Netwerk24, die Afrikaanse nuuswebblad, het sy intekenaarbasis in die jaar met 32% tot 59 912 opgestoot. Netwerk24 is boonop steeds die grootste betaalmuur-nuuswebwerf in die land.

Uitgewers

Media24 se skoolhandboekuitgewers Collegium en Via Afrika het voordeel getrek uit groot bestellings uit Botswana, maar veranderings aan die uitbetalingsbeleid van die Suid-Afrikaanse regering se studentehulpskema, die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), het die verkope van akademiese handboeke geknou.

NB Uitgewers het sy markleierposisie behou, en Jonathan Ball Publishers het die markleier in sy sektor geword danksy ’n sterk reeks topverkopers.

Televisie

Media24 se Afrikaanse leefstyl- en vermaaktelevisiekanaal VIA is steeds die gewildste leefstylkanaal onder DStv se spitstydkykers. Advertensie-inkomste het in die boekjaar ook meer as verdubbel.

E-handel

Media24 se e-handel het goed presteer, met Fashion United SA, wat as Superbalist handel dryf, wat nou die grootste aanlyn mode-kleinhandelaar in die land is.

E-handelvolumes het met 25% gegroei. Media24 besit 51% van die onderneming.

Finansies

Media24 se nabelaste verlies vir die boekjaar het gekrimp van R305,5 miljoen tot R141 miljoen. Sy kontant uit bedrywighede het met R397 miljoen verbeter danksy die kleiner handelsverlies en minder geld wat vir bedryfskapitaal gebruik is. Die groep het teen die jaareinde kontant van R1,1 miljard op sy balansstaat gehad en meen hy het voldoende kontantreserwes beskikbaar om sy bedrywighede te finansier soos wat die Covid-19-krisis ontvou.

Dividend

Die Media24-direksie het aanbeveel dat ’n dividend van altesaam R42 miljoen verklaar word. Dit is onderhewig aan goedkeuring deur aandeelhouers op die jaarvergadering wat vir 27 Augustus beplan word.

Transaksies wat die groep beklink het ná die jaareinde, sluit in die oorname van ’n Londense boekuitgewer, Icon Books, teen R33 miljoen, en die oorname van ’n digitale agentskap, Swipe Interactive, teen R23 miljoen.

  • Netwerk24 is deel van Media24.
Meer oor:  Resultate  |  Ehandel  |  Drukmedia  |  Digitaal  |  Covid-19  |  Media24
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.