Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mediclinic kry weer meer pasiënte danksy oorname
Mediclinic
Mediclinic se inkomste het met 'n stewige 7% toegeneem.

Mediclinic-hospitale het die afgelope halfjaar in Suid-Afrika weer vir die eerste keer in drie jaar meer pasiënte gekry en sy inkomste het met ’n stewige 7% van die ooreenstemmende halfjaar se R8 miljard gestyg.

Dit kom nadat Mediclinic sedert 2017 of ’n daling of geen groei in die betaalde dae in die hospitaal gehad het.

In ’n handelsoorsig vir die halfjaar tot einde September word gesê dat die betaalde dae in die hospitaal met 2,7% gestyg het.

Dit word toegeskryf aan die verkryging van die meerderheidsbelang in die Intercare-hospitaalgroep wat vier dagklinieke en vyf hospitale het. Die bydrae tot die inkomste van dié hospitale het R105 miljoen beloop.

“Soos verwag, het Intercare met ’n groei van 2,4% tot die meeste van die groei in Mediclinic Suider-Afrika se betaalde dae bygedra.”

Die vyf jaar lange markondersoek na die private gesondheidsektor is pas afgehandel en daar is bevind dat die drie groot hospitaalgroepe, waaronder Mediclinic, die hospitaalmark oorheers en in staat is om mededinging te verwring en te voorkom deur die wyse waarop mediese spesialiste met winsgewende aansporings aan hul hospitale gebind word.

Die markondersoek het ook bevind dat hulle daarin slaag om jaar ná jaar wesenlike winste te maak.

’n Vorige aanbeveling verlede jaar dat dié hospitaalgroepe van hul bedrywighede verkoop, is egter nie in die finale verslag van die markondersoek nie.

Die markondersoek het wel aanbeveel dat die mededingingskommissie sy benadering tot samesmeltings wat oor tyd veroorsaak dat hospitaalgroepe al groter word, hersien. ’n Nuwe reguleerder vir verskaffers is ook aanbeveel wat verantwoordelik sal wees om te bepaal waar nog hospitale nodig is en wie lisensies gaan kry.

Dié strenger lisensiestelsel moet die markkonsentrasie (dus hoe groot die groot hospitaalgroepe is) in ag neem.

Die rede hoekom hospitaalgroepe waarskynlik kan sukkel om nuwe pasiënte te kry sonder oornames is omdat mediese fondse se lede nie juis groei nie, want net soveel mense in Suid-Afrika kan die premies bekostig.

So het Mediclinic se betaalde dae en inkomste asook opnames die afgelope drie jaar in halfjaar gevaar:

  • Einde September 2016: Betaalde dae styg met 2,6% en die inkomste styg met 8% tot R7,2 miljard. Opnames styg met 2,6% tot 299 000.
  • Einde September 2017: Daal met 3,3% en sy inkomste styg met 4% tot R7,5 miljard. Opnames daal met 3% tot 289 000.
  • Einde September 2018: Betaalde dae styg met 0,5%; inkomste styg met 5% tot R7,8 miljard. Opnames daal met 0,9% tot 286 000.
  • Einde September 2019: Betaalde dae styg met 2,7%; inkomste met 7% (die res van die inligting is nog nie bekend nie omdat dit ’n handelsoorsig is.)

So het dit die afgelope drie jaar aan die einde van sy boekjaargelyk:

  • Einde Maart 2016: Betaalde daestyg met 2,9% en inkomste styg met 9% tot R13,4 miljard. Opnames beloop 575 000.
  • Einde Maart 2017: Betaalde dae styg met 0,8%; inkomste styg met 7% tot R14,3 miljard. Opnames styg met 0,6% tot 579 000.
  • Einde Maart 2018: Betaalde dae daal met 1,5%; inkomste styg 5% tot R15,1 miljard. Opnames daal 2% tot 566 000.
  • Einde Maart 2019: betaalde dae styg 0,6%; inkomste styg 5% tot R15,9 miljard. Opnames daal effens tot 565 000.

Dr. Ronnie van der Merwe, uitvoerende hoof van die groep, het gesê die vertoning in die eerste helfte is bemoedigend omdat die syfers in pas met die verwagtinge is.

In Switserland het sy hospitaalgroep goeie vordering gemaak om sy bedrywighede aan te pas by die wetsverandering daar. Hirslanden se inkomste en opnames het met 5% gestyg. Sy bedryfswinsmarge voor finansieringskoste en waardevermindering was “betreklik stabiel” op 14% vergeleke met die ooreenstemmende halfjaar se 14,3%. Daar was voorheen kommer onder beleggers oor sy winsmarge.

In die Midde-Ooste het sy inkomste met 8,5% gestyg. Die bedryfswinsmarge daar was in pas met die verwagting rondom 9,5% vergeleke met 9,4% in die ooreenstemmende tydperk.

In Suid-Afrika beloop sy bedryfswinsmarge voor finansieringskoste en waardevermindering 20% vergeleke met die ooreenstemmende tydperk toe dit 21% was.

Die groep se aandeelprys het vroegoggend byna met 3% tot R69,85 gestyg.

Meer oor:  Mediclinic  |  Resultate  |  Mediese Sorg  |  Markondersoek  |  Wins  |  Hospitaalgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.