Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mediclinic styg 8% ná oorsig vertroue gee

Die hospitaalgroep Mediclinic se aandeelprys het Woensdag ’n huppel in sy stap gekry en stewig met 8% gestyg ná die uitreiking van ’n handelsoorsig wat gesonder resultate vir die boekjaar tot einde Maart toon.

Beleggers in Mediclinic het goeie nuus in die hospitaalgroep se jongste handelsoorsig baie geniet wat Woensdag die maatskappy se aandeelprys 'n stewige hupstoot gegee het.

Die maatskappy het vroegoggend, nadat sy handelsoorsig uitgereik is, twee ontledersverslae aangestuur wat toon die handelsbanke UBS en RMB Morgan Stanley het die teiken vir sy aandeelprys verhoog.

Dr. Ronnie van der Merwe, uitvoerende hoof van die groep, sê die resultate stem ooreen met wat beleggers verwag en is bereik in ’n moeilike omgewing vir gesondheidsorg.

Hy sê hy voel bemoedig deur die vordering met bedrywighede en dat die doelwitte wat gestel is, bereik word.

Flou sake in SA

Mediclinic in Suider-Afrika se inkomste gaan in die boekjaar net 5% styg van R15 miljard in die vorige boekjaar.

Die trae groei word toegeskryf aan die totale dae wat pasiënte in die hospitaal deurgebring het, wat nie juis gegroei het nie, en die inkomste per dag in die hospitaal wat met net 4,3% gestyg het.

Die belang wat in die Intercare-groep verkry is, wat dagklinieke en ander hospitale het, het van begin Desember af R60 miljoen bygedra.

Sy bedryfswinsmarge uitgesluit finansieringskoste en waardevermindering (ebitda-marge) het met 0,5 basispunte gedaal tot 21%.

Volgens Van der Merwe is die marge bereik deur ’n voortgesette fokus op kostebestuur en beter doeltreffendheid.

Hy sê die getal pasiënte sal in die komende jaar met sowat 1% groei danksy die daghospitale van Intercare.

Die maatskappy het ’n strategiese doelstelling om die gehalte van behandeling en die ervaring van pasiënte in hospitale verder te verbeter.

Volgens Van der Merwe gaan daar verder in personeel en inligtingskommunikasietegnologie in die komende jaar belê word. Nog kliniese direkteure gaan in sy hospitale in Suider-Afrika aangestel word.

Dié besteding gaan sy winsgewendheid beïnvloed. Tesame met die laer marges van die daghospitale van Intercare en die invloed van die nuwe Mediclinic-daghospitaal op Stellenbosch, gaan die ebitda-marge tot 20% daal.

Vertroos

Roy Campbell, aandele-ontleder van RMB Morgan Stanley, sê die omvang van die daling in die marges in Suid-Afrika van 100 basispunte in Suid-Afrika vir die komende jaar is moontlik die negatiefste verrassing in die aankondiging.

RMB Morgan Stanley én UBS glo egter die handelsoorsig sal ’n mate van die vertroue wat verloor is, herstel en positief wees vir die aandeelprys.

Die maatskappy, wat die afgelope jare in Switserland, die Midde-Ooste en Suid-Afrika bedrywig is, het die laaste paar jaar beleggers teleurgestel. Sy aandeelprys het sedert sy hoofnotering begin 2016 in Londen ná ’n samesmelting met ’n maatskappy van die Midde-Ooste skerp gedaal.

Die nuwe teikenprys wat die ontleders vir Mediclinic gee, is steeds ver onder wat dit voorheen was.

Volgens die UBS-ontleder Kane Slutzkin is die vooruitskouing vir Mediclinic vir die komende boekjaar effens flou, maar die mark het troos gevind in die beter leiding wat die groep oor sy Switserse hospitale se wins het.

Die inkomstegroei vir Suid-Afrika en die Midde-Ooste vir die pasafgelope boekjaar is onder die verwagting, maar die winsmarges is binne verwagting.

UBS* beveel aan dat die aandeel gekoop word en die teiken vir die aandeelprys oor 12 maande is 430 p in Londen. Dit is teenoor Mediclinic se sluitingsprys Dinsdagaand van 304 p – dus ’n styging van 41%.

In Londen het Mediclinic skerp met 10% tot 335 p gestyg.

Sy aandeelprys in Suid-Afrika het in ’n stadium met byna 8% tot R60,36 gestyg.

Sy aandeelprys was in Februarie 2016, toe die maatskappy sy hoofnotering in Londen gekry het, R204,51 in Suid-Afrika. Die aandeelprys in Londen was toe 903 p.

RMB Morgan Stanley* het ’n teiken van 360 p vir die aandeelprys gegee.

  • * Die aandelemakelaars maan beleggers hulle doen sake met die maatskappye wat in hul navorsingsverslae gedek word en beleggers moet bewus wees daarvan dat belangebotsing kan bestaan wat die objektiwiteit van hul aanbevelings kan beïnvloed.
Meer oor:  Mediclinic  |  Handelsoorsig  |  Beleggers  |  Aandeelpryse  |  Hospitale  |  Hospitaalgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.