Die Mededingingstribunaal het ’n stokkie gesteek voor Mediclinic se planne om twee hospitale in Klerksdorp oor te neem.

Die mededingingstribunaal het gesê hy het omvattend met die betrokke hospitaalgroepe geskakel oor hoe die kommer van die kommissie hanteer kan word. Die kommissie het wel besluit dat Mediclinic nie die twee hospitale by MMHS sal kan oorneem nie.
Die Mededingingstribunaal moes besluit of Mediclinic Matlosana Medical Health Services (MMHS) kan oorneem. Mediclinic sou ingevolge die voorgestelde transaksie ’n meerderheidsbelang in MMHS kry.
MMHS besit en bedryf twee private hospitale, Wilmed Park en Sunningdale, in Klerksdorp, Noordwes.
Mediclinic het 50 km van daar af ook ’n hospitaal in Potchefstroom.
Die hospitaalgroepe het op 29 September 2016 die Mededingingskommissie van die beoogde transaksie verwittig. Die kommissie het daarna, op 28 Junie 2017, aanbeveel dat die tribunaal die oorname moet verbied omdat die kommissie meen dat sal lei tot ’n styging van pryse. Die kommissie het ook aangevoer die oorname kan verder die aansporing verminder wat bestaan om onder meer die gehalte van gesondheidsorg in die gebied te verbeter. Kommer is ook uitgespreek oor die groter bedingingsmag wat Mediclinic met mediese fondse sou kry.
Die hospitaalgroepe het die ontken die beoogde oorname sal ’n negatiewe uitwerking op mededinging hê, en het gesê dit gaan lei tot groter doeltreffendheid wat goed is vir mededinging. Dit sluit in die koste van aankope wat kan daal en die kliniese gehalte wat gaan verbeter.
Die mededingingstribunaal het gesê hy het omvattend met die betrokke hospitaalgroepe geskakel oor hoe die kommer van die kommissie hanteer kan word.
“Die menings van ’n paar mediese fondse is ingewin, wat waardevolle insette aan die tribunaal verskaf het.
“Ondanks verskillende voorstelle oor verskeie maande, is geen geskikte oplossing gebied vir die wesenlike afname in mededinging wat die transaksie gaan meebring nie,” lui die verklaring van die tribunaal.
Die tribunaal sal later meer inligting oor die redes vir die besluit uitreik.
Mediclinic se aandeelprys het Woensdag nie op die nuus reageer nie en het 0,8% hoër op R54,93 verhandel.
Dit is baie naby aan sy laagste sluiting sedert sy notering oorsee in 2016 van R54,15 wat begin Januarie bereik is.