Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mediclinic se wins onder erge druk
Die Mediclinic Midstream in Centurion, wat 176 beddens het. Foto: Verskaf

Die internasionale hospitaalgroep Mediclinic is nie bang dieselfde staatsingryping vind in Suid-Afrika plaas soos wat hy in Switserland beleef het nie.

Dít het sy wins onder druk geplaas.

Die groep, wat ook in die Midde-Ooste bedrywig is, se inkomste in die boekjaar tot einde Maart het met 2% tot £2,9 miljard gestyg, het hy Donderdag bekend gemaak.

Sy bedryfsvertoning is negatief geraak deur sy Hirslanden-bedrywighede in Switserland, wat wetsverandering en staatsingryping moes trotseer.

Die groep se aangepaste bedryfswins is 11% laer op £330 miljoen.

Die bedryfswins is laer gedruk deur verskeie buitengewone items wat nie ’n impak op kontant het nie, onder meer die afskrywing van bates by Hirslanden wat spruit uit die veranderende omgewing in Switserland.

Die groep het daarna ’n verlies van £151 miljoen gerapporteer.

Ronnie van der Merwe, uitvoerende hoof, sê die tariefstruktuur vir hospitale in Switserland was sodanig dat dit dokters aangespoor het om alle prosedures in hospitale uit te voer. Daar is min van daghospitale gebruik gemaak.

Dit het baie druk op koste geplaas en tot onbekostigbaarheid gelei, wat die regering genoop het om in te gryp.

Daar is nou ’n lys van prosedures gepubliseer wat net in daghospitale gedoen mag word. Daarby is die pryse wat nasionaal deur die staat vir buite-hospitaal-behandeling betaal word, ook verlaag.

Van der Merwe is egter nie bekommerd dat Suid-Afrika dieselfde paadjie gaan stap nie. Die Mededingingskommissie se markondersoek na private gesondheidsorg kyk juis na koste.

“Die ondervinding in Switserland is uniek,” sê Van der Merwe.

“Daghospitale is nie nuut in Suid-Afrika nie. Daar is baie praatjies dat behandeling uit hospitale na daghospitale gaan skuif, maar daghospitale se pryse is in elk geval betaal vir die prosedures wat in hospitale gedoen is.”

Die negatiewe impak van Switserland is teëgewerk deur ’n beter vertoning in die tweede helfte van Mediclinic Suider-Afrika en Mediclinic Midde-Ooste.

In Suid-Afrika het die inkomste met 5% tot R15,9 miljard gestyg.

Suider-Afrika dra 30% van die groep se inkomste by.

Die bedryfswins het met 3% tot R2,8 miljard gestyg. Suid-Afrika se bydrae tot die bedryfswins is sowat 38%.

Die bedryfswins het gestyg ten spyte daarvan dat die getal pasiënte afgeneem het. In die boekjaar is 565 000 pasiënte in hospitale opgeneem – 1000 minder as in die vorige jaar.

Die betaalde dae wat pasiënte in ’n hospitaalbed bestee het, het met 0,6% gestyg. As dit nie was vir die verkryging van die daghospitaalgroep Intercare nie, sou dié syfer met 1% gedaal het, sê Jurgens Myburgh, finansiële hoof.

Hy skryf die daling in pasiënte toe aan die swak ekonomie en omdat mediese fondse se ledetal nie groei nie.

Dr. Ronnie van der Merwe, uitvoerende hoof van die Mediclinic-groep. Foto: Verskaf

Oor die volgende twee boekjare word ses nuwe daghospitale beplan, een elk by Mediclinic Nelspruit, Mediclinic Stellenbosch, Mediclinic Pietermaritzburg, Mediclinic Cape Gate, Mediclinic Winelands en Mediclinic Bloemfontein.

Mediclinic het agt daghospitale.

Die daghospitale word by die hoofhospitaal geopen om aan te pas by die verskuiwing van opnames vir sekere prosedures van die hoofhospitaal na die daghospitaal.

Amper 400 beddens meer

In die boekjaar het Mediclinic R1,1 miljard aan uitbreiding, verkrygings en nuwe toerusting bestee.

Die hospitale wat uitgebrei is, is Mediclinic Potchefstroom, Mediclinic Medforum, Mediclinic Legae en Mediclinic Klein-Karoo terwyl een daghospitaal by Mediclinic Newcastle gevestig is.

Die verkrygings sluit in Welkom Medical Centre en ’n meerderheidsbelang in die Intercare-groep.

Dit het sy totale getal gelisensieerde beddens met 386 tot 8 517 verhoog.

Intercare bestuur 21 klinieke (wat ook 15 tandartse insluit) asook vier daghospitale, vier subakute hospitale en ’n vrugbaarheidshospitaal.

In die lopende boekjaar gaan nog meer – R1,2 miljard – aan uitbreiding en instandhouding bestee word.

Verskeie bestaande projekte aan hospitale en daghospitale gaan voltooi word, wat na verwagting nog 162 beddens gaan byvoeg.

Meer oor:  Mediclinic  |  Resultate  |  Mediese Sorg  |  Wins  |  Hospitaalgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.