Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Meer openheid oor lenings by Standard Bank gevra
Tracey Davies, direkteur van die aandeelhouersaktiviste-organisasie Just Share.

Aandeelhouers van Standard Bank het Donderdag met 55% teen 45% gestem ten gunste van ’n resolusie wat die bankgroep sal dwing om ’n beleid oor lenings aan steenkoolkragstasies en steenkoolmyne te aanvaar en dit openbaar te maak.

Nog ’n resolusie wat die bank sou dwing om meer inligting aan aandeelhouers te verskaf oor sy klimaatverwante risiko’s en details oor sy lenings, beleggings en finansiering van fossielbrandstof-verwante projekte, het egter nie geslaag nie. Tot 61% van die aandeelhouers het teen dié resolusie gestem op die jaarvergadering wat Donderdag gehou is.

Maar dit kan wel as ’n groot deurbraak vir omgewingsbewuste aandeelhoueraktiviste beskou word, want dit is die eerste keer dat ’n JSE-genoteerde maatskappy sy aandeelhouers toelaat om te stem oor ’n klimaatverwante kwessie.

Standard Bank se direksie het wel vooraf aanbeveel dat aandeelhouers teen die resolusies stem.

Die resolusies is voorgestel deur die bekende aandeelhoueraktivis Theo Botha tesame met die Raith-stigting en Just Share, ’n aandeelhouerorganisasie wat hom beywer vir geregtigheidskwessies in Suid-Afrika.

Standard Bank het wel sedert Julie verlede jaar ’n strenger beleid oor lenings vir die bou van steenkoolkragstasies. Hy sal hiervolgens net geld leen vir kragstasies wat uiters doeltreffend is en wat minder as 750 g koolsuurgas per kWh se elektrisiteit vrystel. Volgens Standard Bank het hy reeds verskeie maatreëls in plek om omgewingsrisiko’s te bestuur.

Just Share voer aan hulle vra bloot die bank om meer inligting aan aandeelhouers te gee oor sy lenings aan fossielbrandstofprojekte en eis nie dat die bank sy leningspraktyke moet verander nie. Baie banke oor die wêreld heen maak reeds dié soort inligting bekend.

Tracey Davies, direkteur van Just Share, sê dit is wel uiters betekenisvol dat soveel as 38% van aandeelhouers ten gunste van die resolusie oor die openbaarmaking van klimaatsrisiko’s gestem het. En dit is nogal buitengewoon dat aandeelhouers teen die wense van die maatskappydireksie ten gunste van die tweede resolusie oor lenings aan steenkoolprojekte gestem het.

Davies sê op die jaarvergadering Donderdag het Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van Standard Bank, gesê die bankgroep steun in beginsel die resolusies, maar het meer tyd nodig om die soort inligting te kan voorsien.

Volgens Davies behoort baie van die inligting reeds vir die bank beskikbaar te wees. Just Share sal nou ook ander banke en fossielbrandstof-verwante maatskappye takel om hul verantwoordelikheid oor klimaatsverandering ernstiger op te neem. Die stemming Donderdag het volgens haar gewys daar is ’n groot deel van Suid-Afrikaanse aandeelhouers wat begryp dat klimaatsverandering ’n wesenlike faktor is in hul beleggingsbesluite.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.