Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Meer studente studéér in 2020, sê dié universiteit

Die inperking van 2020 was nie net slegte nuus vir die akademiese jaar nie. Baie meer studente het die ingehokte tyd gebruik om te doen wat hul ouers eintlik van hulle verwag – studeer.

k
Stadio het in 2020 10% meer studente gehad en wil teen 2026 altesaam 56 000 studente hê. Foto: Pixabay

Volgens Chris Vorster, uitvoerende hoof van die private-universiteitsgroep Stadio, het 98% van studente in 2020 hul take ingedien, teenoor sowat 80% in vorige jare.

Stadio besit die Milpark-sakeskool, die skool vir uitvoerende kunste Afda, asook Stadio self, wat sedert Oktober die oorkoepelende naam is vir Stadio-fakulteite, die modeskool Lisof, die Southern Business School, Embery en Prestige Academy.

Die persentasie Stadio-studente wat opgeskop het, was ook die laagste sedert Stadio in 2017 van Curro ontknoop en afsonderlik genoteer is.

Die persentasie studente wat vir afstandsonderrig ingeskryf het maar opgeskop het, het byna gehalveer, van 11,4% in 2019 tot 6,1% in 2020, en die slaagsyfer vir dié studente het van 76,8% tot 83% opgeskiet.

k

Die slaagsyfer van studente wat begin 2020 vir kontakonderrig ingeskryf het, was effens swakker, met 83,5% wat modules deurgekom het teenoor 84,5% in 2019, maar ook hier het minder studente opgeskop – net 2,5% teenoor 2019 se 3,5%.

k

Vorster skryf dit daaraan toe dat dosente werklik uit hul pad gegaan het om kontak met studente te behou. Die groep het dadelik vir kontakstudente wat dit nodig gehad het, data beskikbaar gestel toe die streng inperkings begin het.

Vir hom is een van die grootste prestasies in die eerste jaar van die Covid-19-pandemie juis dat hulle ondanks die ontwrigtings die 2020- akademiese jaar kon voltooi.

Stadio se inkomste vir 2020 het met 14% tot R933 miljoen gestyg.

Stadio se studentetal het met 10% tot 35 031 gestyg en die groep is goed op koers vir sy mikpunt van 56 000 teen 2026. In 2020 het 82% van studente vir afstandsonderrigkursusse ingeskryf, teenoor 80% in 2019.

Die groep wil nie noodwendig die 80%-teiken verander nie. “Ons weet nog nie regtig hoe studente gaan reageer in ’n post-Covid- akademiese jaar nie. Ons glo daar sal altyd plek wees vir kontakleer. Daar is studente wat die kampuslewe wil ervaar, deel wil wees van ’n studentegemeenskap.”

Sekere vakgebiede – soos modeontwerp en uitvoerende kunste – is moeiliker om aanlyn te onderrig.

Vorster sê voorlopige aanduidings is dat hul studentetal ook in 2021 gegroei het, maar omdat matriekuitslae so laat uitgereik is, is dit moeilik om nou reeds finale syfers te gee.

Impak van Covid-19

stadio
Chris Vorster, uitvoerende hoof van Stadio.

Covid-19 het Stadio se inkomste met R44 miljoen se inkomste verminder, hoofsaaklik omdat maatskappye kursusse vir werknemers of leerderskappe opgeskort het en minder mense ingeskryf het vir aanlyn kortkursusse.

Vorster sê maatskappye is steeds lugtig om dit te doen omdat die vrees vir die derde vlaag koronavirusinfeksies onsekerheid skep.

Die groep het ook R4 miljoen se bykomende koste vir gesondheidsregulasies gehad.

Aan die ander kant het Covid-19 R40 miljoen se besparings teweeggebring, insluitend die regeringshulp soos die Covid-19-Ters, en besparings aan die huur van eksamenlokale, toesighouers, reis-, druk- en koerierkoste en skryfbehoeftes.

In syfers

  • Inkomste styg met 14% tot R933 miljoen.
  • Kernwesensverdienste per aandeel styg met 31% tot 14,2c. Kernwesensverdienste weerspieël ’n maatskappy se wins uit bedrywighede.
  • Ebitda (verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings) daal met 75% tot R46 miljoen. Dit word grootliks toegeskryf aan ’n billikewaarde-verlies omdat CA Connect, ’n onderneming wat Stadio oorgekoop het, baie meer studente ingeneem het as wat voorsien is.
  • Geen dividend is verklaar nie. Stadio verklaar nog nie dividende nie.
Meer oor:  Private Onderrig  |  Tersiêre Onderrig  |  Stadio  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.