Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Meeste van Jooste se 500 perde al verkoop
Markus Jooste vroeër saam met een van sy wenperde, Rich Girl.

Die meerderheid van die 400 renperde wat Markus Jooste se beleggingsmaatskappy Mayfair Speculators in Suid-Afrika besit het, is reeds verkoop.

Jooste was die afgelope jare ’n groot speler in die plaaslike wedrenbedryf.

Die meeste van die resiesperde is sedert April verkoop nadat Mayfair Speculators en sy beheermaatskappy Mayfair Holdings ’n reëling met sy skuldeisers ingevolge art. 155 van die Maatskappywet gesluit het wat deur die hooggeregshof in Kaapstad goedgekeur is.

Mayfair skuld sowat R1 miljard aan Absa, Investec en Sanlam Capital Markets en het ondergeskikte skuldeisers van R1,4 miljard.

Netwerk24 het van ’n bron verneem die meeste perde is verkoop en net enkeles moet nog verkoop word. Voorheen is in hofstukke getoon Mayfair Speculators van Frankryk het 100 perde besit. Daar is blykbaar ook net ’n paar in dié land oor wat nog verkoop moet word.

Stefan Potgieter, Jooste se skoonseun, en enigste direkteur van die maatskappye, het nog nie op vrae gereageer wat vroeg Woensdagoggend aan hom gestuur is nie. Hy sal later vandeesweek reageer, volgens hom. 

Jooste het op 7 Desember uit Mayfair se direksie bedank – ’n dag nadat die bom gebars het oor Steinhoff wat nie sy jaarstate kan uitreik nie omdat ’n hernude forensiese ondersoek na ongerymdhede met die groep se boeke begin sou word.

Wie is Mayfair Speculators?
  • Mayfair Speculators is beskryf as ’n maatskappy wat ’n perdetelery en renperdonderneming bedryf, op sy eie of deur filiale waarin hy aandele hou.
  • Die maatskappy het direk en indirek sowat 400 perde vir wedrenne en teeldoeleindes besit. ’n Belang is ook in Klawervlei Stud gehou en die maatskappy besit Mayfair Speculators France wat perde koop en verkoop in Europa. Speculators France besit sowat 100 perde.
  • Nog ’n belang is gehou in Cape Thoroughbred Sales wat perdeveilings aanbied soos die Cape Premier Yearling Sale.
  • ’n Lys van bates het getoon die perde en beleggings in die volgende maatskappye is R76,7 miljoen werd: ToTheTop (84,6%); Mayfair Speculators SARL (100%) en Kalamojo Trading & Investments (50%).
  • Leningseise het R169,3 miljoen beloop teen onder meer Klawervlei Stud, Cape Thoroughbred Sales en Jomar Services.
  • ’n Leningseis bestaan ook teen Lanzerac Estate Investments.
  • Sy ondergeskikte skuldeisers van R1,4 miljard is Mayfair Holdings; Rearden Trading and Investments en Hachmer Beheer.

Die Mayfair-maatskappye verkoop ingevolge die reëlingskema sekere geïdentifiseerde bates om die skuldeisers terug te betaal.

Sekere mylpale met die verkoop van die bates moet bereik word. Die reëlingskema sou einde Desember tot 'n einde loop.

Mayfair het die lenings by Sanlam, Investec en Absa gekry deur Steinhoff-aandele as sekuriteit te verskaf.

Wie is Mayfair Holdings?
  • Mayfair Holdings se alleen-aandeelhouer is die Silveroak Trust, wat tot voordeel van Jooste en sy familie opgerig is.
  • Die maatskappy hou direk en indirek belange in Lodestone Brands, Second Chapter Investments, Gregaleighk en Rare Holdings.
  • Die drawaarde van sy beleggings in die maatskappye en ander, het R1,39 miljard beloop. Hy het ook leningseise teen ’n klomp ander maatskappye, insluitende Erf 2825 Hermanus; Uhambo Property Investments en Kalamojo Trading and Investments van R620,1 miljoen.
  • ’n Belegging in Klawervlei Stud se voorkeuraandele beloop R66,7 miljoen

Die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys in Desember het veroorsaak dat die leners ingevolge die bepalinge van die leningsooreenkomste die onmiddellike terugbetaling van die lenings van Speculators vereis het, wat die maatskappy nie kon doen nie.

Heel links is Stefan Potgieter, Markus Jooste se skoonseun. Jooste se vrou, Ingrid, hou die trofee vas. Potgieter is getroud met Jooste se dogter Andrea, wat tweede van regs staan.

Investec het op 14 Desember ’n hofaansoek gebring vir die terugbetaling van R93,5 miljoen wat op 29 November aan Mayfair geleen is. ’n Dag daarna het Absa ’n aansoek gebring om Mayfair Speculators te laat likwideer.

Holdings het daarna ’n waarborg aan die leners verskaf deur die aandele wat gehou word in Second Chapter Investments en Lodestone Brands aan hulle te verpand en sekere van sy eise teen derde partye aan hulle te sedeer.

Die Mayfair-groep het daarna die ooreenkoms voorgestel om die ordelike verkoop van die bates te bewerkstellig. Die hoop is dat skuldeisers meer sal terugkry as wat met ’n onmiddellike likwidasie sou gebeur het.

Die leners het ook ingestem om nie verder hofsake teen hulle in te stel nie.

Die sakereddingspesialiste Les Matuson en Piers Marsden is ook deur die leners op die direksie van Mayfair as nie-uitvoerende direkteure aangestel.

Meer oor:  Investec  |  Steinhoff  |  Mayfair Speculators  |  Mayfair Holdings  |  Sanlam  |  Absa  |  Mayfair  |  Markus Jooste  |  Stefan Potgieter  |  Skuldeisers  |  Renperde  |  Hofaansoek  |  Reëlingskema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.