Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Meesterplan vir staal op pad

Die departement van handel en nywerheid is wel in gesprek met ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) en is bewus van die staalmaatskappy se uitdagings, het dr. Umeesha Naidoo, direkteur vir primêre minerale by die departement, in ’n onderhoud gesê.

blikkies
Koeldrankblikkies van aluminium gereed vir verspreiding. Verskeie faktore knou die plaaslike staalbedryf, maar die departement van handel en nywerheid belowe hy werk aan ’n meesterplan.Foto: REUTERS

Die departement het op 20 Augustus met Amsa en ander rolspelers in die staalbedryf vergader en besluit ’n meesterplan vir die staal- en metaalvervaardigingsbedryf gaan ontwikkel word, het Naidoo gesê.

Die plan sal in fases toegepas word en verskeie ingrypings in samewerking met die arbeid- en sakesektor word beoog. Benewens tariefbeskerming en ’n aansporingspakket vir stroomaf-staalvervaardiging, wil die regering die onwettige handel en die onwettige uitvoer van skrootmetaal pak.

Naidoo sê die nuwe Afrika-vryhandelsooreenkoms bied ook nuwe geleenthede vir die staalbedryf in die res van Afrika.

Dit volg op Amsa se aankondiging vroeër dat hy sowat 2 000 poste wil sny weens duur krag- en vragpryse en mededinging van goedkoop Chinese invoer wat sy winsgewendheid knou.

Amsa wil die invoertariewe op staal tot 20% verhoog hê.

Volgens Naidoo is daar tans ’n invoertarief van 10% op staal en met ’n verdere beskermingsheffing van 8% bring dit die huidige effektiewe tariefbeskerming wel op sowat 20% te staan.

Staal wat van China ingevoer is, het van 12% van die totale staalinvoer in 2000 tot 54% van totale invoer in 2016 gestyg, het Amsa vroeër gesê.

Tot 20% van Suid-Afrika se staalverbruik is ingevoerde staal en die meeste daarvan kom van China, Rusland en Taiwan. In die eerste ses maande vanjaar is daar al 18% meer staal ingevoer as ’n jaar gelede.

Naidoo sê die regering probeer al sedert 2015 die plaaslike staalbedryf help deur benewens die invoertariewe ook tariefverhogings vir sekere staalprodukte in te stel, en om staatsondernemings te verplig om plaaslike staal aan te koop.

’n Fonds is gestig om mededinging in die staalvervaardigingsbedryf te bevorder.

Die situasie in Suid-Afrika word volgens haar vererger deur onder meer die swak ekonomie wat die vraag na staal demp, die groot oortollige produksiekapasiteit in die res van die wêreld, en plaaslike staalfabrieke se onderbenutting van hul produksievermoë. Die markte vir Suid-Afrikaanse staaluitvoer is ook onder druk.

Oor die stryd met Amerika oor sy skerp verhoging in invoerheffings op staal en aluminium wat pres. Donald Trump verlede jaar ingestel het, het Naidoo gesê die departement hou vol met gesprekke met Amerika oor ’n kwytskelding van dié tariewe. Suid-Afrika het vroeër aansoek gedoen vir kwytskelding, maar dit is nie goedgekeur nie. Volgens Naidoo het sekere plaaslike uitvoerders van staalprodukte wel verligting gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.